Gholf: Louis-hulle sal in laaste ronde moet uithaal

(Foto: LIVGolf.com)

Daar is baie op die spel in die derde en laaste ronde van die LIV-gholftoernooi wat in die King Abdullah Economic City in Djedda in Saoedi-Arabië gespeel word.

Die Amerikaners Talor Gooch en Bryson DeChambeau is saam met die Australiër Cameron Smith in ʼn hewige driestryd gewikkel om te bepaal wie as vanjaar se beste speler in die reeks sal afsluit en ʼn bonuspryspot van 18 miljoen Amerikaanse dollar (sowat R341 miljoen) in sy sak sal steek.

Smith het op die Royal Greens-baan in die tweede algehele posisie in die reeks afgeslaan, maar nadat Gooch 64 houe in die tweede ronde aangeteken het, het hy sy neus voor dié van Smith en DeChambeau gekry.

DeChambeau is steeds in die wedloop en as hy tussen die top drie eindig, sal hy as kampioen gekroon word.

Die Amerikaner Brooks Koepka het die voortou ná Saterdag se tweede ronde geneem (-12), gevolg deur Sergio Garcia en Charles Howell III (albei op -9), gevolg deur Scott Vincent en DeChambeau op -8.

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen en Dean Burmester is albei op -4 in die 16de posisie, met Charl Schwartzel op -3 en Branden Grace gelyk aan baansyfer.

Hulle was almal bestendig in die tweede ronde, sonder om werklik na vore te tree.

In die spanafdeling loop die Crushers (-22) voor, gevolg deur Smash en Fireballs (albei saam op -17), met die Suid-Afrikaners se Stingers-span agtste op -12.

Die spanindeling is nog nie afgehandel nie en daar bly nog twee toernooie oor om die wenspan te bepaal.

Die agt topspanne dring ná die Djedda-toernooi vanselfsprekend deur na die “eindstryd”, met die res van die spanne wat in Miami sal uitspeel om te bepaal wie saam met die top agt sake om die enorme pryspot sal uitspook.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Shriners Children’s-ope wat op TPC Summerlin in Las Vegas beslis word, loop die Kanadees Adam Hadwin, Lanto Griffon van Amerika en Joo-Hyung Kim van Suid-Korea saam voor op 198 houe (-15) ná die derde ronde.

Hulle word in die vierde posisie gevolg deur Kyoung-Hoon Lee (Suid-Korea) en Vincent Whaley (Amerika) en nog ʼn Kanadees, Taylor Pendrith, wat almal saam op 199 (-14) in die klubhuis geëindig het.

Suid-Afrika se Erik van Rooyen is op 205 (-8), gevolg deur Garrick Higgo (206, -7) en Christiaan Bezuidenhout (212, -1).

* In die Europese reeks en DP World Tour se Spaanse Ope wat in Madrid gespeel word, het vier Franse na vore geskiet in die derde ronde.

Matthieu Pavon is op 197 (-16) voor, gevolg deur Natham Kimsey van Engeland (199, -14).

Hy word in die derde posisie gevolg deur Suid-Afrika se Xander Lombard, Alfredo Garcia-Heredia van Spanje en nog twee Franse, Romain Langasque en Michael Lorenzo-Vera, wat almal saam op 201 (-12) geëindig het.

Van die ander Suid-Afrikaners is Thomas Aiken, Daniel van Tonder, Thriston Lawrence en Wilco Nienaber (almal 206) stewig geplaas, met Louis de Jager op 208 en Deon Germishuys op 210.

* In die plaaslike Sonskynreeks het Luca Filippi die Blue Label-uitdaagtoernooi (Stableford-punte) gewen wat by Sun City beslis is.

Filippi het met 34 punte geëindig, met Ryan van Velzen en Keenan Davidse saam tweede (32 punte), gevolg deur Jacques P de Villiers en Callum Mowat (albei 27) en Jonathan Broomhead (26 punte).

Filippi het volgens die Sonskynreeks met ʼn voorsprong van ses punte afgeslaan, maar sy voorsprong het met twee punte gekrimp nadat hy houe aan baansyfer op die tweede en sesde putjies afgestaan het.

Hy het vasgebyt en die res van die ronde in baansyfer voltooi en met ʼn voëltjie op die 15de gekroon om aan sy voorsprong te klou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.