Gholf: SA gholfspelers bult hul spiere

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout. Foto: Richard Heathcote/Getty Images/AFP.

Die Suid-Afrikaanse vlag het Vrydag hoog gewapper toe van Suid-Afrika se voorste gholfspelers in gholftoernooie oor die wêreld heen hul stemme dik gemaak het.

In die Amerikaanse PGA-reeks se Cognizant Classic wat op die PGA National-kampioenskapsbaan by Palm Beach in Florida gespeel word, loop Garrick Higgo net met een hou agter die voorloper, die Amerikaner Bud Cauley, ná die tweede ronde.

In die LIV-gholftoernooi wat in Djedda in Saoedi-Arabië beslis word, is Charl Schwartzel net een hou agter die voorlopers, Jon Rahm van Spanje en Adrian Meronk van Pole, met Louis Oosthuizen in die sesde posisie.

In die SDC-kampioenskap, wat op die St. Francis-links in die Oos-Kaap gespeel word en deel is van die Dubai World Tour (Europese reeks), is Shaun Norris en Robin Williams saam tweede ná die tweede ronde.

* Higgo, wat tellings van 67 en 65 houe oor die eerste twee rondes aangeteken het, het op 132 (-10) saam met die Amerikaner Austin Eckroat in die klubhuis geëindig ná die tweede ronde van die Cognizant-toernooi met ʼn prysgeld van $9 miljoen (sowat R172 miljoen).

Cauley is voor op 131 houe (-11), met Higgo en Eckroat saam tweede (132, -10) en die Fransman Victor Perez en Chun-An Yu van China saam vierde op 133 (-9).

Jake Knapp, wat verlede week se Meksiko-Ope gewen het, is saam met Noord-Ierland se Rory McIlroy en nog ses ander spelers saam sesde op 134 (-8).

Van die ander Suid-Afrikaners het Erik van Rooyen (137, -5) en Christiaan Bezuidenhout (141, -1) ook hul spiere gebult.

* By die Royal Greens-buiteklub in Saoedi-Arabië het Schwartzel en Oosthuizen in die eerste ronde na vore geskiet, terwyl Dean Burmester en Branden Grace (albei 67 houe) saam 17de is.

Rahm en Meronk is saam voor op -8 en word deur Schwartzel, Joaquin Niemann van Chili en Bryson DeChambeau van Amerika op -7 gevolg, met Oosthuizen (-6) in die sesde plek.

Die Suid-Afrikaanse Stinger-span (-16) is net een hou agter Legion X111 (-17) gevolg deur die Crushers, HyFlyers en Iron Heads, wat almal saam derde is op -12.

* Op ʼn winderige St. Francis-links in die Oos-Kaap het Norris en Robin Williams (albei 136, -8) hul stemme dik gemaak en is hulle saam tweede agter Daniel Brown van Engeland (133, -11).

Suid-Afrika se Jbé Kruger is saam sesde op 138 (-6), met Malcolm Mitchell sewende op 139 (-7) en Louis de Jager en Keith Horne (albei 140) saam 13de.

Van die ander Suid-Afrikaners is Oliver Bekker, Casey Jarvis en Ockie Strydom almal op 141, met Lyle Rowe, Thomas Aiken en Nikhil Rama almal op 142.

Ryan van Velzen, Wilco Nienaber en Keegan Davidse is almal saam op 143 met ʼn hele paar ander Suid-Afrikaners wat volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.