Gholf: Scottie blaas in voorlopers se nek; Nelly, Buhai spring goed weg

Scottie Scheffler (5 Januarie 2024) (Foto: Michael Reaves/Getty Images via AFP)

Die wêreld se voorste mans- en vroue-gholfspeler het Donderdag albei ‘n stewige wegspring gehad in hul strewe na voortgesette sukses.

Scottie Scheffler en Nelly Korda se visiere is gerig op drie oorwinnings op ‘n streep in onderskeidelik die Amerikaanse PGA- en LPGA-reeks.

Die 27-jarige Scheffler is ná dag een van die Texas Children’s Houston Ope slegs ‘n enkele hou agter die voorlopers, terwyl die 25-jarige Korda in Phoenix in Arizona drie houe agter die voorloper is ná die eerste ronde van die Ford-kampioenskap.

Scheffler het in sy laaste twee verskynings met die louere weggestap in die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi, asook in die gesogte Spelerskampioenskap.

Albei toernooie was in Florida gewees.

Korda was in haar laaste twee verskynings in onderskeidelik Florida en Los Angeles baas in die Drive On-kampioenskap en Fir Hills Seri Pak-kampioenskap.

*Scheffler het Donderdag op die Memorial Park-baan tekens van roes getoon nadat hy die vorige week vir vier dae nie aan ‘n gholfstok gevat het nie.

“Ek het ‘n bietjie tyd saam met my familie spandeer en nie juis geoefen nie. Dit het ‘n paar putjies geneem voordat ek weer my ritme gevind het,” het Scheffler ná sy foutlose vertoning van 65 houe (-5) gesê.

Hy het uiteindelik twee voëltjies oor sy eerste nege en drie oor sy tweede nege putjies aangeteken nadat hy by die eerste drie putjies elke keer moes kap en set om syfer te red na skewe naderhoue.

Scheffler se setyster was weer vuurwarm soos die laaste tyd en hy het op die eerste dag slegs 25 sethoue nodig gehad om hom in die derde plek op die voorlopersbord te sien inskuif.

Die Amerikaners Taylor Moore en Wilson Furr is op -6 die voorlopers, met Joe Highsmith en Davis Riley wat saam met Scheffler op -5 pronk.

Suid-Afrika se Garrick Higgo (68) kan tevrede voel met sy wegspring, maar vir Dawie van der Walt (76) was dit ‘n dag van groot teleurstellings.

Hy het op +6 gedraai en tot +8 teruggeval voordat hy met twee voëltjies geëindig het. Sy kanse is egter nul om die valbyl Vrydag vry te spring.

Die laaste speler wat ‘n driekuns van seges op die Amerikaanse PGA-reeks kon beklink, was Rory McIlroy wat dit in 2016 vermag het.

Nelly Korda van die VSA (28 Maart 2024) (Foto: Christian Petersen/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

*Korda is op -6 in die gesamentlike negende plek nadat Thailand se Pijara Anannarukan die Seville-gholfbaan op sy knieë gedwing het met ‘n skitterende telling van 63 (-9).

Waar die speeltoestande verlede week in Los Angeles uitmergelend was, was dit Donderdag byna perfek gewees.

“Dit was vandag (gister) heelwat makliker as verlede week toe ons tot die uiterste beproef is. Die setperke is sag ná al die reën wat die laaste tyd geval het so ‘n mens kan baie meer aggressief speel,” het Korda agterna gesê.

Sy sal die eerste speler sedert Ariya Jutanugarn (2016) word wat drie keer op ‘n streep wen sou sy Sondag seëvier.

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai is ook stewig in die wedloop om sukses nadat sy soos Korda met ‘n 66 afgeskop het.

Buhai het oor haar laaste tien putjies ses houe aan syfer afgetrek met vier voëltjies en ‘n arend nadat sy met agt agtereenvolgende syfers begin het.

Paula Reto het ook die SA vlag laat wapper met ‘n goeie 69 (-3) wat vier voëltjies en een brouhou ingesluit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.