Gholf: Spaanse vreugde by Pecanwood

Pablo Larrazábal in aksie. Foto: Alfred Dunhill Championship/Twitter

Die Spaanse gholfspeler Pablo Larrazabal beskryf Suid-Afrikaanse gholfbane as “paradys” en dis hoekom hy sedert 2007 die plaaslike reekse ondersteun.

Die 38-jarige Larrazabal het Sondag by die Pecanwood-landgoed by die Hartbeespoortdam sy tweede toernooi in Suid-Afrika gewen toe hy ná ʼn uitspeelstryd eerste geëindig het in die MyGolfLife-ope, wat deel van die Sonskynreeks en Dubai World Tour is.

Larrazabal en sy Spaanse landgenoot Adri Arnaus en Jordan Smith van Engeland het al drie op 266 houe (22 houe onder baansyfer) geëindig.

Arnaus het op die eerste uitspeelputjie (18de) uitgeval waarna Larrazabal vir Smith op die tweede uitspeelputjie uitgestof het.

Larrazabal het in 2019 die Alfred Dunnhill-toernooi by Leopard Creek buite Malelane gewen.

Suid-Afrika se George Coetzee, ná ʼn vierde ronde van 64 houe, was Sondag vierde op 267, gevolg deur sy landgenoot Richard Sterne (268) met Ross Fisher van Engeland, nog ʼn Spanjaard Nacho Elvira en die plaaslike gunsteling Hennie du Plessis saam agtste op 269.

Du Plessis, wat op die Pecanwood-landgoed woon, het 62 en 65 houe in die eerste twee rondes aangeteken, maar algaande swakker gevaar en met 70 en 72 houe in die derde en vierde ronde geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.