Gholf: Suid-Afrikaners louwarm oorsee

Argieffoto van Christiaan Bezuidenhout. (Foto: Glyn Kirk/AFP)

Dit was een van daardie dae dat die vertonings van die Suid-Afrikaanse gholfspelers wat oorsee aan toernooie deelneem, net genoeg gedoen het om jou aandag te prikkel, maar sonder veel om opgewonde oor te raak.

In Fort Worth, Texas, is Christiaan Bezuidenhout (136, -4) in die 15de posisie ná die tweede ronde van die Charles Schwab-uitdaagtoernooi wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks en by die Colonial-buiteklub gespeel word.

Die Amerikaner Scottie Scheffler, die wêreld se voorste speler, loop saam met sy landgenote Beau Hossler en Scott Stallings op 131 (-9) met een hou voor ná die tweede ronde.

Nog ’n Amerikaner Patrick Reed is in die vierde plek op 132, (-8) met Dylan Frittelli (137, -3) van Suid-Afrika, wat naas Bezuidenhout die beste van die Suid-Afrikaners gevaar het.

Erik van Rooyen (144, +4) en Garrick Higgo (145, +6) kon nie vir die laaste tweede rondes kwalifiseer nie.

* In die Nederlandse Ope wat by Bernardus Golf in Cromvoirt gespeel word en deel is van die DP World Tour (Europese reeks), loop die onbesonge Ricardo Gouveia van Portugal (134, -10) met een hou voor ná die tweede ronde nadat hy tellings van 68 en 66 op sy telkaart ingevul het.

Haoton Li van China is op 135 een hou agter Gouveia, met Adrian Meronk van Pole en Matt Wallace van Engeland (136, -8) saam derde.

Suid-Afrika se Darren Fichardt (141, -3) is 28ste met JC Ritchie en Daniel van Tonder op 142 (-2) saam 39ste.

Hennie du Plessis (143, -1) is in die gesamentlike 48ste posisie.

* In die Belgiese Ope vir vroue wat op die Naxhelet-baan in Wanze beslis word en deel is van die Europese LPGA-reeks, loop Linn Grant van Swede (132,  -12) met ses houe voor ná die tweede ronde.

Ellinor Haag van Swede, Anne-Charlotte Mora van Frankryk en Whitney Hillier van Australië is saam tweede op 138 (-6).

Drie Suid-Afrikaners, Lejan Lewthwaite, Lee-Anne Pace en Stacy Lee Bregman is op 140 (-2) saam vyfde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.