Gholf: Van Rooyen klou vas, maar word kwaai gejaag

Suid-Afrika se Erik van Rooyen tydens ‘n vorige spel in Kalifornië. (Foto: Christian Petersen / AFP)

Suid-Afrika se Erik van Rooyen is steeds stewig in die wedloop ná die tweede ronde van die Mexikaanse Ope-gholftoernooi wat by Vidanta Vallarta gespeel word, maar hy sal baie diep in die laaste twee rondes moet delf.

Die plaaslike held Alvaro Ortiz, Jake Knapp van Amerika, Matt Wallace van Engeland en die Fin Sami Valimaki is saam voor op 131 houe (-11), met Van Rooyen vyfde op 132 (-10) nadat hy 69 houe in die tweede ronde aangeteken het.

Alvaro Ortiz is die jonger broer van Carlos Ortiz, wat reeds ʼn toernooi in die Amerikaanse PGA gewen het en nou in die LIV-reeks speel.

Die toernooi is deel van die Amerikaanse PGA-reeks.

Wat Van Rooyen se bult steil maak, is dat 24 spelers saam negende is op 136 (-6), met die Amerikaners Tony Finau, Mark Hubbard, Lanto Griffon, Thorbjorn Olesen van Denemarke, Carl Yuan (China) en Emiliano Grillo (Argentinië) wat in Van Rooyen se nek blaas.

* By die Muthaiga-buiteklub in Kenia is Suid-Afrika se Deon Germishuys en Louis de Jager (albei 137, -5) saam agtste ná die tweede ronde van die Kenia-Ope, wat deel is van die DP World Tour (Europese reeks).

Die Fin Tapio Pulkannen, Connor Syme van Skotland en Darius van Driel van Nederland loop saam voor op 135 (-7,) gevolg deur die Italianer Lorenzo Scalise, die Skot Ewen Ferguson, Manuel Elvira (Spanje) en Sam Hutsby (Engeland) wat almal saam vierde is op 136 (-6).

Van die ander Suid-Afrikaners wat vir die tweede ronde gekwalifiseer sluit in Ryan van Velzen (138, -4), Jacques Kruyswijk en Pieter Moolman (albei 139, -3), Thriston Lawrence (140, -2) en Casey Jarvis (141, -1).

*  In die plaaslike Sonskynreeks se NMB-kampioenskap wat op die Humewood-baan in Gqberha gespeel word, loop ʼn emosionele Keenan Davidse van Suid-Afrika en die Sweede Bjorn Akesson saam voor met twee houe op 130 (-14).

Hulle word gevolg deur Jonathan Caldwell van Noord-Ierland (-13) met Suid-Afrika se Jaco Prinsloo, Lee Slattery van Engeland en die Fransman Martin Couvra almal saam op -12.

Davidse wat rondes van 64 en 66 houe aangeteken het, se afrigter, Arnold Mentz, is drie dae gelede oorlede, terwyl een van sy geliefde tannies ook in die week gesterf het.

Volgens Davidse het twee engele die afgelope paar dae oor hom die gewaak en dit was sy motivering.

* In die Europese vroue-reeks se Lalla Meryembeker-toernooi wat in Dar-Es-Salaam beslis word, loop Maria Fassi van Portugal op 134 (-12) met vier houe Pauline Boucher (Frankryk) gevolg deur Ines Laklalach (Marokko).

Suid-Afrika se Cara Gorlei en Nicole Garcio is albei saam 19de op 146 (gelyk aan baansyfer) met Casandra Alexander op 148 (+2).

Bronne: BBC en Sonskynreeks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.