Harding kan die kroon in Dubai dra

Argieffoto van Justin Harding . (Foto: Justin Harding/Facebook)

Suid-Afrika se Justin Harding spog reeds met twee oorwinnings in die DP World-gholfreeks, sewe seges in die Sonskynreeks en nog twee in die Asiese reeks.

Sondag op die Emirates-baan in Dubai kan hy sy grootste oorwinning in die geldryke Dubai Desert Classic behaal wanneer hy met ʼn voorsprong van twee houe in die laaste ronde afslaan voor ʼn rits spelers van die onlangse Europese Ryderbekerspan.

Harding het 65, 68 en 71 houe in die eerste drie rondes aangeteken en is op 204 houe twee houe voor Rory McIllroy van Noord-Ierland.

Suid-Afrika se Erik van Rooyen en die Engelsman Tommy Fleetwood (albei 207) is saam vierde.

Van die ander Suid-Afrikaners is Brandon Stone en George Coetzee (albei 213), Dean Burmester (214), Daniel van Tonder (216), Justin Walters (218) en Garrick Higgo (221) ook nog in die wedloop.

Die toernooi het totale prysgeld van $8,000,000 (bykans R124 miljoen).

* In San Diego in Kalifornië het die Amerikaner Luke List sy uitspeelstryd teen sy landgenoot Will Zalatoris op die eerste putjie gewen in die Farmers Insurance-toernooi, wat deel is van die Amerikaanse PGA.

Albei spelers het op 274 houe geëindig en is gevolg deur die Aussie Jason Day, die Spanjaard Jon Rahm en Cameron Triangle van die VSA. Hulle het al drie op 274 klaargemaak.

Dit was List se eerste oorwinning in die Amerikaanse PGA-reeks.

* Die Nieu-Seelander Lydia Ko (205) loop met twee houe voor ná die derde ronde van die Gainbridge-toernooi wat op die Boca Rio-ban in Florida beslis word met prysgeld $2,000,000 (bykans R31 miljoen).

Die Amerikaner Daniell Kang (207) is twee houe agter Ko in dié LPGA-toernooi gevolg deur Celine Boutier van Frankryk (208) en Charley Hull (Engeland) en Yuka Saso (Japan), saam vierde op 209.

* Op die Sun City-baan in die Pilanesberg slaan die Suid-Afrikaner Martin Rohwer (133) Sondag met ʼn voorsprong van vier houe af in die derde en laaste ronde van die Vodacom Origins of Golf-toernooi.

Hy word gevolg deur sy landgenote Alex Haindl (137) en Louis de Jager, Dylan Mostert en Pieter Moolman (almal op 138).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.