Ierse Ope-gholftoernooi: McIlroy skiet na vore

Noord-Ierland se Rory McIlroy. (Foto: Patrick Smith/Getty Images/AFP)

In sportkringe word daar altyd gesê dat jou tuistoeskouers ʼn bykomende speler en jou grootste bondgenoot is.

Die afgelope paar dae op die K9-baan in Kildare het Ierland se lieflingseun Rory McIlroy dit opnuut in die Ierse Ope-gholftoernooi ervaar.

McIlroy wat in 2016 die Ierse Ope gewen het toe dit die laaste keer op die K9-baan beslis is, het in die derde ronde van vore geskiet terwyl die voorlopers in die winderige toestande die kluts kwyt was.

McIlroy, wat by die halfpadmerk agt houe agter Jordan Smith (Engeland) en Shubhankar Sharma (Indië) was, het met ʼn telling van 66 houe tot binne twee houe van die nuwe voorloper, Duitsland se Hurley Long, opgeskuif.

Long, wat maar 252ste op die wêreldranglys is, het 70 houe in die derde ronde op sy telkaart ingevul en loop op 203 (-13) met een hou voor Smith (204, -12) met McIlroy derde op 205 (-11) .

Fisher, Sharma, Calum Hill en Grant Forrest (albei Skotland), Julien Brun (Frankryk) en Ryan Fox (Australië) is saam vierde op 206 (-10).

Long kon vanjaar nog nie tussen die top-25 in enige toernooie eindig nie en moet die aanslag van McIlroy, wat tweede op die wêreldranglys is en die duisende Ierse ondersteuners wat bankvas agter McIlroy staan, afweer.

Long het die beste van die ander voorlopers gevaar, want die finale driebal, wat uit Smith (73 houe), Sharma (74) en Ross Fisher (Engeland, 75 houe) bestaan het, het saam nege houe oor baansyfer geëindig.

Mcllroy se ronde was nie sonder drama nie.

Hy het sy 3-hout op die sesde putjie gebreek en op die 16de putjie (syfer 5) het hy sy tweede hou in die water geslaan. Hy het ná ʼn strafhou uitgegooi, maar sy naderhou het ʼn klip getref, wat gelukkig vir hom terug op die baan gespat het.

Hy het voëltjies op die laaste twee putjies behaal.

Volgens hom is dit moeilik om sy land se Ope te wen.

“Ek was gelukkig genoeg om dit ʼn paar jaar gelede hier reg te kry en daardie herinneringe sal my aanspoor. Die ondersteuning van die toeskouers help ongelooflik baie,” het McIlroy gesê.

Van die Suid-Afrikaners het Thriston Lawrence (210, -6) die beste gevaar. Hy word gevolg deur Erik van Rooyen (212, -4), Hennie du Plessis (21-4, -2) en Louis de Jager (215, -1).

*  In die Amerikaanse LPGA-reeks wat op die Kenwood CC Kendale-baan in Cincinnati beslis word, loop Minjee Lee van Australië op 201 houe (-15) met twee houe voor Peiyun Chien en Charley Hull (Engeland) wat saam op 203 (-13) geëindig het.

Morgane Metraux van Switserland is vierde op 204 (-12) met Yuka Saso van Japan en Madelene Sagstrom van Swede saam vyfde op 205 ( -11).

Suid-Afrika se Paula Reto is tiende op 208 (-8) nadat sy 69 houe in die derde ronde aangeteken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.