Joburg-Ope: Lawrence gee pas aan

(Foto: Joburg Open/X)

Die Suid-Afrikaanse gholfster Thriston Lawrence droom daarvan om sy talente in die Amerikaanse PGA-reeks uit te stal.

Daarom dien die teleurstelling dat een hou hom verlede week in Dubai van ʼn PGA-spelerskaart weerhou het, as die nodige aansporing om hierdie seisoen suksesvol te wees in die verwesenliking van sy droom en doelwit om op die grootste verhoog mee te ding.

Die 26-jarige Lawrence se nuwe veldtog om sy Amerikaanse spelerskaart te verwerf, kon nie op ʼn beter noot afgeskop het nie in Donderdag se eerste ronde van die Joburg-Ope-gholftoernooi. Die boorling van Nelspruit het die uitdagende Houghton-baan aangevat en uiteindelik op sy knieë gedwing met ʼn puik telling van 62 houe – agt houe minder as die baansyfer.

Dit het aan Lawrence ʼn voorsprong van drie houe gegee en die kampioen van 2021 stewig op koers geplaas om weer die gesogte titel in te oes. En natuurlik sal ʼn oorwinning Lawrence se veldtog vir ʼn Amerikaanse spelerskaart stukrag gee.

“Die seisoen is lank, maar ek kon nie op ʼn beter begin gehoop het nie,” sê die voorloper oor sy vertoning.

Lawrence het sy aanslag op die titel met ʼn voëltjie by die eerste begin, waarna hy vlamgevat het met nog vier agtereenvolgende voëltjies vanaf die derde. Oor die tweede nege het hy effens momentum verloor en kon hy slegs drie verdere voëltjies op sy telkaart invul.

“Ek het die balletjie goed geslaan, maar my setwerk was die uitstaande kenmerk van my spel. Ek kon sekuur korrel omdat ek die setperke goed gelees het en ook die spoed van die setperke onder beheer gehad het.

“Dit was ʼn aangename dag op die gholfbaan en ʼn goeie begin,” het Lawrence agterna gesê.

Oor verlede week se teleurstelling dat hy met ʼn enkele hou uitgemis het op ʼn spelerskaart vir die Amerikaanse reeks, sê Lawrence die lewe is vol teleurstellings.

“Dis maar hoe die lewe werk en ʼn mens moet terugslae kan verwerk en aangaan.

“Die seisoen is baie lank, maar hierdie keer gaan een van daai tien kaarte myne wees,” sê die viermalige Europese toernooiwenner.

Suid-Afrika se Thriston Lawrence. (Foto: Gabriel Monnet/AFP)

Die Europese en Amerikaanse reeks het ʼn ooreenkoms ingevolge waarvan die toptienspelers aan die einde van die seisoen op die Race to Dubai-puntelys wat nie oor Amerikaanse spelerskaarte beskik nie, beloon word met speelregte in Amerika die volgende seisoen. Lawrence het in Dubai op -17 in die gesamentlike vyfde plek klaargemaak, maar net-net ʼn kaart verbeur. Een hou beter en ʼn posisie hoër en Lawrence sou op pad na Amerika gewees het.

ʼn Speler wat straks nog lank nie oor Amerika sal droom nie en eers sy voete op plaaslike bodem sal wil vestig, is die nuweling Nikhil Rama wat almal met ʼn telling van 65 (-5) verras het en die tweede plek beklee. Die 22-jarige speler van die Bryanston-klub se beste vertoning tot dusver in sy beroepsloopbaan is twee vierde plekke in die Sonskynreeks.

Hy het egter gister heel tuis voorgekom in die groot geselskap van die 156 deelnemers aan die glansryke Joburg Ope, wat in oorleg met die Europese reeks aangebied word en prysgeld van meer as R20 miljoen op die spel het.

Rama het by die tiende putjie afgeslaan en in 30 houe (-5) gedraai nadat hy met drie agtereenvolgende voëltjies begin het. Oor die tweede nege kon Rama egter nie die pas volhou nie en twee verdere voëltjies is deur twee brouhoue geneutraliseer.

ʼn Groep van tien spelers beklee op -4 die gesamentlike derde posisie ná dag een se spel.

Onder die tiental tel verlede jaar se kampioen, die Engelsman Dan Bradbury, asook die bekende Suid-Afrikaanse spelers Zander Lombard, Jacques Kruyswijk en Darren Fichardt. Strydros Fichardt het in 2017 die Joburg Ope gewen en sal hoop om vandeesweek die horlosie terug te draai. Die LIV-speler Dean Burmester is deel van ʼn groep van 12 spelers wat almal 68 houe (-2) gespeel het. Dylan Frittelli is ook deel van die twaalftal op -2 en die gewese Johannesburger sal hoop op ʼn goeie vertoning vandeesweek nadat hy verlede naweek sy volle speelregte in Amerika verloor het.

Die groot teleurstelling van die dag was die spel van die gewese Amerikaanse Meesterskampioen Charl Schwartzel. Hy was van meet af die kluts kwyt en het uiteindelik op +3 klaargemaak. Dit sal ʼn topvertoning van Schwartzel verg om Vrydag net die halfpadmerk-afsnykerf te oorleef.

Nog ʼn Suid-Afrikaanse ster wat op dag een nie aan die verwagtinge voldoen het nie, is Christiaan Bezuidenhout. Hy het drie weke gelede die eerste keer pa geword en verstaanbaar effens verroes gelyk oor Donderdag se eerste 18 putjies. Op -1 sal die boorling van Delmas oor die laaste drie rondes moet uithaal indien hy Lawrence wil inhaal en na die kroon steek.

Lawrence het egter Donderdag na ʼn man met ʼn doel voor oë gelyk en dit voorspel niks goeds vir Bezuidenhout en al die ander hoopvolle deelnemers nie.

  • Bykomende bron: DP World Tour

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.