LIV-geldkrane toegedraai

Die LIV-reeks het verlede jaar na raming sowat R40 miljard spandeer om die nuwe gholfskouspel te loods. (Foto: LIV Golf/Twitter)

Die omstrede LIV-gholfreeks het verlede jaar geld uitgegee of dit uit ’n bodemlose put borrel.

Die reeks, gefinansier deur Saoedi-Arabië, se spandabelrige verkwisting van geld behoort egter tot die verlede nadat opdrag gegee is dat die gordels styf getrek word wat betref die nuwe reeks se toekomstige uitgawes.

Die opdrag om die oënskynlike mors van geld dadelik te staak, kom van niemand anders nie as die goewerneur van Saoedi-Arabië se openbare beleggingsfonds, Yasir al-Rumayyan.

Die fonds besit en administreer die LIV-reeks en Al-Rumayyan is tegnies die man in beheer van sake – al word die reeks daagliks deur die Aussie Greg Norman bedryf.

Die LIV-reeks het verlede jaar na raming sowat R40 miljard spandeer om die nuwe gholfskouspel te loods.

Al-Rumayyan het onlangs in hofstukke erken dat die LIV-reeks verlede jaar nie ’n enkele sent in inkomste verdien het nie.

Waar die LIV-reeks verlede seisoen die spelers en hul joggies, asook hul gades en ander steunpersoneel se reis- en verblyfkoste betaal het, is die spelers verlede week skielik op die vooraand van die seisoen se eerste toernooi in Mexiko ingelig dat hulle voortaan vir hul eie uitgawes verantwoordelik is.

Die twaalf deelnemende spanne, wat elk uit vier spelers bestaan, het wel elk ’n onbekende toelaag vir hul uitgawes ontvang en sal hand in eie sak moet steek as die span se uitgawes meer is as die toegekende toelae.

Ongelukkigheid hieroor het reeds dadelik verlede naweek sy kop onder joggie-geledere uitgesteek toe Brooks Koepka se span se joggies in ’n duur hotel tuisgegaan het terwyl die ander joggies almal in goedkoop verblyf tuisgegaan het.

Koepka het glo die span se toelae onder die vier spelers en hul joggies verdeel en gesê elkeen kan maak soos hy goed dink, maar dat hulle self sal moet opdok sou hulle hul deel van die toelaag opgebruik.

Al-Rumayyan het voorts die LIV-spelers “versoek” om die geld wat hulle in die spankompetisie wen, te gebruik om die spanne se identiteit en beeld uit te bou eerder as om dit in hul eie sakke te steek.

Spelers kan glo aan die einde van die seisoen bonusse aan hulself betaal sou hulle die geld daarvoor hê.

Dié versoek deur die LIV-baas gaan beslis ongelukkigheid veroorsaak.

Die veteraan Pat Perez het juis verlede jaar gesê hy het hom by Dustin Johnson se 4 Aces-span aangesluit om te kan deel in die reuse-spanprysgeld wat op die spel is.

Hy het in agt toernooie meer as $7 miljoen (sowat R127 miljoen) aan prysgeld in die spankompetisie verdien. In die individuele kompetisie het Perez net meer as $1 miljoen (sowat R18 miljoen) verdien.

Dit was juis die einste Perez se vermaaklike optrede toe hy ná een van die LIV-toernooie verlede jaar op sosiale media gespog het hoe hulle in private stralers vlieg en duur sjampanje en wyn drink, wat Al-Rumayyan laat besluit het om die LIV-spelers se uitgawes so bietjie te briek.

Al-Rumayyan was glo woedend dat Perez én sy vrou talle onvanpaste foto’s op sosiale media geplaas het en met hulle nuwe glansleefstyl gespog het terwyl hulle op LIV se onkoste rondgevlieg het.

Die volgende LIV-toernooi begin op 18 Maart in Tucson in Arizona.

Bron: The Firepit Collective

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Witbaard ·

As Perez dan die probleem veroorsaak het, waarom jaag hulle hom dan nie weg nie. Dit sal ‘n duidelike boodskap aan die ander wees. Nou word die res gestraf vir sy arrogansie.

Heinrich ·

Wow, ek nie geweet dat die ANC betrokke is by die LIV-toernooi nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.