LIV-reeks vang nóg ’n groot vis

Bubba Watson. Foto: Andrew Redington/Getty Images/AFP

Die omstrede LIV-gholfreeks het vandeesweek sy spiere gebult en ’n duidelike boodskap aan gholfbase wêreldwyd gestuur: Ons gaan nêrens heen nie en is hier om te bly.

In die eerste sarsie skote het LIV se grootbaas, die Aussie-gholfster Greg Norman, aangekondig dat aanstaande jaar se reeks uit veertien toernooie sal bestaan en ’n asembenewende totale prysgeld van $405 miljoen (nagenoeg R6,8 miljard) sal hê. Die reeks behels vanjaar slegs agt toernooie met ’n totale prysgeld van $255 miljoen (bykans R4,2 miljard).

In nog ’n sarsie skote kort daarna het Norman aangekondig hy het nog ’n groot vis ingekatrol ­– die dubbele Amerikaanse Meesters-kampioen Bubba Watson, wat hom ook by die LIV-reeks aangesluit het en in September in Boston in die vierde van die seisoen se agt LIV-toernooie in aksie sal wees.

Watson het volgens bronne $50 miljoen (sowat R840 miljoen) ontvang om die Amerikaanse PGA-toer vaarwel te roep. Die 43-jarige Yank se besluit om hom by Norman se organisasie aan te sluit volg kort op die hakke van sy twee landgenote Charles Howell III en Jason Kokrak, asook die Sweed Henrik Stenson, se besluit om dieselfde te doen. Stenson is kort ná sy oorlopery van die kapteinskap van die Europese Ryderbekerspan onthef.

Greg Norman. Foto: Steve Dykes/Getty Images/AFP.

Watson is die sewende Amerikaanse Meesters-kampioen wat die PGA-toer die rug gekeer het ten gunste van die nuwe LIV-reeks, wat dreig om wêreldgholf in twee te skeur. Die ander ses is Dustin Johnson, Phil Mickelson, Sergio Garcia, Patrick Reed, Adam Scott en Charl Schwartzel.

Kritici van die nuwe LIV-reeks verkondig luidkeels dat Norman tot dusver slegs sterre wat in die skadu van hul loopbaan is, kon lok om die gholfpad vorentoe saam met hom te stap.

Dit is grootliks die waarheid, met ’n groot gros van die uitgelese 48 spelers wat in hul veertigs is en die laaste klompie jare op hul reputasie eerder as hul spelpeil moet staatmaak om nie in die vergetelheid te verdwyn nie.

Ouer spelers soos Mickelson (52), met ses Major-titels en R1,5 miljard se prysgeld, sal egter met enigiemand stry oor hul talente en of hulle vandag nog goed genoeg is om met die opkomende jongelinge mee te ding.

Wat egter kommerwekkend is, is dat jonger spelers soos Matthew Wolff (23), Talor Gooch (30), Carlos Ortiz (31) en Abraham Ancer (31) die geldgod gekies het eerder as die roem wat Major-titels en toernooi-oorwinnings bring. Boonop het ’n viermalige Major-kampioen, Brooks Koepka (32), ook besluit hy het genoeg bereik ná vier grotes.

Vandag se jonger spelers het nie naastenby die dryfkrag wat ’n ysterman soos Gary Player en ʼn kampioen soos Tiger Woods in hul strewe na sukses geopenbaar het nie. Titels is skynbaar al wat dié twee aangevuur het. Geld was lekker, maar ’n bysaak.

Vandag gaan alles oor geld. Die spelers wil ook meer vrye tyd hê om saam met hul gesinne deur te bring.

Dit is presies wat Norman se reeks die spelers bied. Potte en potte vol gewaarborgde prysgeld met toernooie wat in ’n baie meer ontspanne en sosiale atmosfeer aangebied en beslis word. Dit maak nie saak hoe jy vrot jy speel nie, ’n minimum van $100 000 (bykans R1,68 miljoen) is die minste wat jy as vergoeding sal kry vir slegs drie dae se gholf.

Die prysgeld wat op die spel is – die wenner van ’n toernooi steek $4 miljoen (sowat R67 miljoen) in sy sak ­­– is egter nie wat die spelers na die LIV-reeks lok nie. Die grootste geelwortel is die aansluitingsgeld wat hulle ontvang om die Amerikaanse PGA-toer en Europese reeks vaarwel te wuif.

Branden Grace. (Foto: Steve DYKES / Getty Images via AFP)

Volgens bronne het die drie Suid-Afrikaanse sterre, Schwartzel, Louis Oosthuizen en Branden Grace, elk $50 miljoen (sowat R840 miljoen) vir hul handtekeninge gekry. So ook die meerderheid van die bekende en suksesvolle spelers.

Die groot visse wat die Wit Haai ingekatrol het, Johnson ($200 miljoen – R3,36 miljard), Mickelson ($150 miljoen ­– R2,52 miljard), Koepka en Bryson de Chambeau (albei $120 miljoen – R2 miljard), het egter die boerpot gewen. Hulle het genoeg vir die res van hul lewens. Dit laat ’n mens wonder oor wat nog oor is wat kan dien as aansporing om jou beste te gee.

Net tyd sal leer wie nog gaan ja sê vir Norman se gewaarborgde miljoene. Wat wel duidelik is, is dat die Amerikaanse PGA-toer en die Europese reeks hul hande baie dieper in hul sakke sal moet steek. Glorie alleen op dié twee verhoë is skynbaar nie meer genoeg nie.

*Die derde LIV-toernooi begin Vrydag in Bedminster, New York.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Love die LIV reeks en die PGA, niks fout met een van die twee nie, jy hoef nie saam te stem of te ondersteun nie, nes ek ondersteun nie T20 of IPL nie, maar wel toets krieket. Weer, niks fout met IPL nie, net nie my cup of tea nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.