Louis nog ʼn keer strooijonker

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen. (Foto: Andy Buchanan/AFP)

Louis Oosthuizen het Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) in Minnesota weer tweede in ʼn gholftoernooi geëindig, maar dié keer het hy in die klubhuis gesit en kyk hoe die voorlopers die een na die ander in die 3M-toernooi kleigetrap het.

Oosthuizen, wat deur sy groot vriend Charl Schwartzel (wat saam met hom tweede geëindig het) oorreed is om slegs ʼn week ná die Britse Ope in Kent in dié Amerikaanse toernooi af te slaan, het die vierde en laaste ronde in 66 houe voltooi.

Hy, Schwartzel en die Jhonattan Vegas (Venezuela) het saam op 271 houe geëindig en was die klubhuisvoorlopers.

ʼn Uitspeelstryd het ewe skielik na ʼn groot moontlikheid begin lyk.

Maar Cameron Champ (269) het ʼn voëltjie op die 16de putjie aangeteken om die voortou te neem en twee houe voor Oosthuizen-hulle te eindig.

* By Celtic Manor in Newport, Wallis, het Suid-Afrika se Justin Harding saam met die Spanjaard Ignacio (Nacho) Elvira eerste geëindig op 268.

Die Spanjaard, wat met ʼn voorsprong van ses houe in die laaste ronde afgeslaan het, se senuwees het begin lol en hy het 71 houe in die laaste ronde aangeteken, met Harding (65) wat sy kans voor hom aangegryp het en ʼn uitspeelstryd afgedwing het.

Harding se setwerk het hom op die eerste uitspeelputjie in die steek gelaat en Elvira het sy eerste toernooi in die Europese reeks ná 194 probeerslae gewen.

* In die noordooste van Frankryk het Min-Jee Lee van Australië die Evian-kampioenskap vir vroue (wat een van die Major-toernooie is) ná ʼn uitspeelstryd met Jeong-Geun Lee6 van Korea gewen.

Albei spelers het op 266 houe klaargemaak nadat Lee6 met ʼn voorsprong van vyf houe in die laaste ronde afgeslaan het.

Yealimi Noh van Amerika (267) was derde en Suid-Afrika se Ashleigh Buhai het 58ste klaargemaak op 285.

* Die Walliese veteraan Stephen Dodd (267 houe) het by die Sunningdale-klub in Berkshire, Engeland, die Britse Ope vir seniors met een houe gewen.

Miguel Angel Jimenez van Spanje (268) was tweede en Darren Clarke van Noord-Ierland (269) derde.

Ernie Els was agtste (276) nadat hy tellings van 67, 67, 70 en 72 op sy telkaart ingevul het.

James Kingston (277) het ʼn verdere hou terug geëindig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.