Matsuyama se groot deurbraak

Japan se Hideki Matsuyama vier fees saam met ondersteuners nadat hy hom met ‘n skitterende vertoning uit die gholfwildernis gespeel het. (Foto: Michael Owens/AFP)

Die Japanner Hideki Matsuyama was twee jaar lank in gholf se wildernis voordat hy hom Sondagaand op die Riveira-baan in Los Angeles daaruit losgewikkel het deur die Genesis-toernooi teen alle verwagting in te wen.

Matsuyama, wat die Sony-Ope twee jaar gelede ná ʼn uitspeelstryd gewen het, het in 2022 ʼn nek- en rugbesering opgedoen en kon slegs twee keer in twee jaar onder die toptien eindig.

Hy kon nie meer die top-50 op die wêreldranglys haal nie en sy toekoms het bra donker gelyk.

Maar toe dink hy terug aan ʼn boodskap wat sy landgenoot Shigeki Maruyama aan hom gestuur het wat hom herinner het dat hy Asië se mees suksesvolle speler naas KJ Choi van Korea kan word.

Matsuyama, wat met ʼn agterstand van ses houe agter die Amerikaner Patrick Cantlay afgeslaan het, het die vierde ronde in 62 houe voltooi en op 267 houe (-17) drie houe voor die Amerikaners Luke List en Will Zalatoris klaargemaak.

Cantlay, wat met twee houe as voorloper afgeslaan het en saam met sy groot vriend Xander Schauffele gespeel het, het die kluts effe kwytgeraak en 72 houe in die vierde ronde aangeteken. Hy en Schauffele (70 houe) asook Adam Hadwin van Kanada was saam vierde op 271 (-13).

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout (279, -5) het ná sy 71 houe in die laaste ronde 24ste geëindig.

Dit was Matsuyama se negende oorwinning in die Amerikaanse PGA-reeks en hy het $4,000,000 (sowat R75 miljoen) met sy oorwinning verdien.

Hy het weer tot 20ste op die wêreldranglys teruggeskuif en is nou Asië se beste gholfspeler ná sy nege oorwinnings in die PGA-reeks en agt ander toernooie in die Japanse reeks en Hero World Challenge.

* By Fancourt op George het David Ravetto die eerste Fransman geword wat ʼn toernooi in die Sonskynreeks kon wen toe hy eerste geëindig het in die Dimension Data Pro Aam. Dit was ook Ravetto se eerste oorwinning in die Sonskyn- en Europese Uitdaagreeks.

Hy het Sondagoggend op die Montagu-baan met ʼn voorsprong van twee houe afgeslaan en sy oorwinning verseël met twee voëltjies oor die eerste drie putjies. Hy het nog twee voëltjies oor die tweede nege putjies aangeteken om sy ronde met 69 houe af te sluit.

Die Engelsman Sam Hutsby was tweede, maar hy het sy kanse verspeel toe hy op die 13de en 17de putjies houe aan baansyfer afgestaan het.

Suid-Afrika se Hennie du Plessis en Robin Williams en Victor Pastro van Spanje was saam derde op 11 houe onder baansyfer.

* By die Riaad-buiteklub in Saoedi-Arabië het Paphangkorn Tavatanakit van Thailand die Saudi International-toernooi vir vroue met sewe houe gewen nadat sy 65 houe in die laaste ronde aangeteken het.

Sy het op 271 houe (-18), sewe houe voor Ester Henseleit (Duitsland) geëindig, met Minami Katsu van Japan en Charley Hull van Engeland saam derde op 279 (-9).

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai het 69 houe in die laaste ronde aangeteken en op 283 houe (-5) saam tiende geëindig.

Paula Reto was op 286 (-2) saam 18de.

Die toernooi se prysgeld was $5 miljoen (sowat R94 miljoen) en Tavatanakit het bykans R14 miljoen met haar eerste plek verdien.

  • Bronne: The Golf Channel, Sonskynreeks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.