McIIroy-hulle moet kophou in reën

Rory Mcllroy. (Foto: Phil Duncan/ProSportsImages/DPPI/AFP)

Die Noord-Ierse gholfspeler Rory McIIroy sal nie net sy oog op die rits spelers moet hou wat in sy spoor in die Skotse Ope trap nie, maar ook op die hewige donderstorms wat voorspel word.

McIlroy het Vrydag se tweede ronde op die Renaissance-baan in North Berwick, Skotland, in 66 houe voltooi en is op 130 houe (-10) een hou voor Byeong-Hun An en Joo-Hyung Kim (albei van Korea) en Tyrrell Hatton van Engeland, wat al drie op 131 houe (-9) net een hou agter McIIroy is.

McIlroy, een van die groot gunstelinge vir die komende Britse Ope op Royal Liverpool, is op soek na sy eerste Skotse kroon, maar hy sal die Amerikaners Brian Harman en Sam Burns (albei 132, -8) en die wêreld se voorste speler, Scottie Scheffler (Amerika), ook fyn moet dophou.

Scheffler is saam met die Deen Nicolai Hojgaard op 133 (-7).

Deurdringende reën en wind het reeds in die tweede ronde amok gemaak en Saterdag se afslaantye is met ʼn paar uur vorentoe geskuif in ʼn poging om die derde ronde in te pas.

Van die Suid-Afrikaners kon net Erik van Rooyen (135, -5) en Garrick Higgo (136, -4) vir die laaste twee rondes kwalifiseer.

Topspelers wat die bus verpas het, sluit in Justin Rose en Matt Fitzpatrick (albei Engeland) en Jordan Spieth en Patrick Cantlay (albei Amerika).

* In die Amerikaanse LPGA-reeks se Dana-Ope wat in Ohio gespeel word, is die Amerikaner Annie Park (131, -11) met twee houe voor Jaravee Boonchant van Thailand, Linn Grant (Swede) en Allisen Corpuz (Amerika) ná die tweede ronde.

Hulle het saam op 133 (-9) in die klubhuis by die Highlands Meadow-buiteklub geëindig.

Van die ander gunstelinge het Min-Jee Lee (Australië) en Lydia Ko (Nieu-Seeland) albei op 135 (-7) geëindig.

* In die Europese vroue-reeks se Aramco-spantoernooi wat by die Centurion-buiteklub buite Londen beslis word, is Suid-Afrika se Casandra Alexander (-4) op die spoor van die voorlopers, Charley Hull van Engeland en Nelly Korda van Amerika, wat saam voor is (-5).

Alexander, wat twee rondes van 69 houe aangeteken het, is saam met Leonie Harm van Duitsland derde.

Hulle word gevolg deur Anne van Dam (Nederland), Noora Komulainen (Noorweë) en Ana Pelaez van Spanje, wat op -3 geëindig het.

Nog ʼn Suid-Afrikaner, Nicole Garcia, is op (-2) ook binne trefafstand.

Elke span bestaan uit ʼn kaptein, ʼn tweede beroepspeler en ʼn amateur, maar elke speler ding ook afsonderlik mee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.