Mickelson dink hy is ‘groter as die spel’

Die Amerikaanse gholfspeler Phil Mickelson. (Foto: Timothy A. Clary/AFP)

Die gewese Amerikaanse Ryderbeker-kaptein Lanny Wadkins sê die gholfster Phil Mickelson dink hy is groter as die spel.

Wadkins het vandeesweek kaalvuis ingeklim nadat ernstige bewerings oor die sesmalige Major-kampioen se dobbelary die afgelope naweek in ʼn boek onthul is.

Die veroordeelde aandelemakelaar en sportdobbelaar Billy Walters skryf in sy boek Gambler: Secrets from a Life at Risk dat Mickelson nagenoeg $100 miljoen (sowat R1,9 miljard) verkwis het met weddenskappe wat hy oor die jare geplaas het.

Walters en Mickelson was dobbelvennote en volgens Walters wou die gholfster sowat $400 000 (sowat R7,6 miljoen) op 2012 se Ryderbeker-toernooi verwed.

Mickelson was deel van die VSA se span wat op Medinah met 10-6 voorgeloop het, maar op die laaste dag in die enkelspelle vasgeval en met 14.5-13.5 deur Europa getroef is.

Die Engelsman Justin Rose het Mickelson met 1 voor geklop in wat ʼn beslissende sege vir die Europese span was.

“Die beweringe teen Phil is kommerwekkend en ontstellend.

“Ek weet nie of daar ooit ʼn meer teleurstellende figuur as Phil in die spel was of is nie.

“Hy was vir ʼn baie lang tyd ʼn geliefde figuur. Ons het hom bewonder vir sy spel, vir wat hy op die gholfbaan kon vermag. Maar deesdae lyk niks wat hy doen reg of aanvaarbaar nie.

“Dit is teleurstellend en hartseer dat daar mense is wat dink hulle is groter as die spel. En dit is duidelik dat Phil dink hy is groter as die spel,” het Wadkins gal gebraak.

Oor die vraag of Mickelson, wat verlede jaar sy rug op die Amerikaanse PGA-reeks gekeer het en deesdae sy gholf in die LIV-reeks speel, in die toekoms die kaptein van Amerika se Ryderbeker-span kan wees, sê 1995 se spanleier dit is neusie verby vir Mickelson.

“Hy het sy kanse verspeel met alles wat hy gedoen het. Sy optrede in die hele LIV-sage is ʼn bewys van waar sy lojaliteite lê,” sê Wadkins.

Die 73-jarige veteraan van Dallas het op sy dag 21 titels op die PGA-reeks gewen en in 1977 sy enigste Major ingepalm toe hy die PGA-titel verower het.

Wadkins se senior speeldae was uiters lonend en hy het nie minder nie as 33 toernooie in die Kampioenereeks gewen voordat hy sy gholfstokke weggepak het.

Vanjaar se Ryderbeker-toernooi is om die draai en word van 29 September tot 1 Oktober by die Marco Simone-buiteklub in Rome in Italië beslis.

  • Bykomende bronne: Golf Digest, Golf Magazine.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.