Nierstene stuit Oosthuizen nie om voortou te neem

Louis Oosthuizen (Foto: Louis Oosthuizen/Facebook).

Nie eens ’n siekbed kon Louis Oosthuizen stuit om ’n goeie voorsprong ná die openingsronde van die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City op te bou nie.

Die Suid-Afrikaner het ’n ronde van 63 gespeel om die eerste dag op nege houe onder baansyfer af te sluit.

Oosthuizen se naaste teenstanders is Thomas Detry (-6) en Guido Migliozzi (-5).

Dan het Ernie Els die jare terug gerol om ’n openingsronde van -4 te speel. Die “Big Easy” het ’n paar weke gelede 50 geword en is saam met Zander Lombard en Lee Westwood (die verdedigende kampioen) vyf houe agter Oosthuizen.

Maar tog kon niemand vir Oosthuizen kers vashou nie.

“Donderdag teen 03:00 het ek nie gedink ek sal in staat wees om af te slaan nie. Dus is ek baie tevrede met my openingsronde,” het hy gesê.

“Ek het die hele Woensdag nierstene gehad en ek was selfs in die hospitaal. Daarna het ek tot 03:00 in my hotelkamer in ongemak rondgekruip, maar teen 07:00 het ek skielik baie beter begin voel.”

“’n Mens kon sien dat ek dinge stadiger as normaalweg doen. Ek weet dat my afslane en sethoue nog oukei is, ek moet net gesond genoeg wees om te speel.”

Oosthuizen het egter geen teken van ongemak getoon nie en het terstond vier voëltjies by sy eerste ses putjies aangeteken.

“Ek is net mal oor hierdie baan. Een van my eerste oorwinnings op die Sonskyn-toer was hier gewees en ek het net goeie herinneringe as ek hier speel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.