Nuwe uitdaging wag op Rory

Noord-Ierland se Rory McIlroy. (Foto: Ryder Cup/X)

ʼn Nuwe uitdaging staar Rory McIlroy in die gesig.

Die 34-jarige Noord-Ierse gholfster meet aanstaande maand in Florida kragte met twee van wêreldgholf se voorste vrouespelers.

McIlroy sê die ervare Lexi Thompson en die opwindende nuweling Rose Zhang die stryd aan op 26 Februarie by The Park-gholfklub in West Palm Beach.

Die Amerikaner Max Homa is ook deel van die viertal spelers wat sake sal uitspook in ʼn skins-vertoonwedstryd oor 12 putjies onder spreiligte.

Die kragmeting is vir liefdadigheid en is pasgemaak vir die TV-gholfreeks The Match.

Dit sal die 18de vertoonstryd in die The Match-reeks wees en McIlroy se tweede keer dat hy daarin speel. Hy het in 2022 saam met Tiger Woods teen Jordan Spieth en Justin Thomas gespeel.

Zhang sê sy brand om te speel en dit is ʼn voorreg om saam met McIlroy, Homa en Thompson haar talente uit te stal.

Vier van die 12 putjies sal syfers drieë wees met al vier spelers wat van dieselfde bof sal afslaan.

Op die ander agt putjies sal die mans en vroue egter van verskillende bowwe afslaan.

Die vier spelers kan op elke putjie ʼn bepaalde bedrag geld wen, sou hulle die ander drie spelers uitstof. As daar nie ʼn wenner op ʼn betrokke putjie is nie, word die wengeld na die volgende putjie oorgedra.

Daar sal aan die einde van die 12 putjies ʼn uitspeelstryd wees indien daar geld is wat nog nie gewen is nie. Die formaat van die uitspeelstryd en die bedrag geld wat op die putjies gewen kan word, moet nog bepaal word.

McIlroy is tans skitterend op dreef en het Sondag in Dubai sy 38ste loopbaan-oorwinning behaal.

Hy spog met vier Majortitels en kort net die Amerikaanse Meesterskroon om die Grand Slam van Majoroorwinnings te voltooi.

Die 33-jarige Homa is een van die gewildste spelers in die Amerikaanse PGA-reeks en het einde verlede jaar by Sun City sy Suid-Afrikaanse volgelinge gaande gehad met sy sege in die Nedbank-uitdaagtoernooi.

Thompson is 28 jaar oud, maar speel reeds sedert haar tienerjare op die grootste verhoog en slaan die balletjie net so ver soos die gemiddelde manspeler.

Sy het 15 LPGA-titels agter haar naam waarvan een ʼn Majortitel is.

Die 20-jarige Zhang het haar verlede jaar by die geldgeledere aangesluit nadat sy amateurgholf jare lank oorheers het. Sy het in haar debuut as beroepspeler die Americas-titel gewen en dit is ʼn gegewe dat sy in die toekoms een van die spel se grotes gaan word.

ʼn Stryd duisend wag beslis op gholfliefhebbers wanneer vier van die topsterre onder die mans en vroue mekaar die eerste keer aandurf.

Net ʼn dwaas sal dit waag om ʼn voorspelling te maak oor wie op daardie dag baas gaan wees.

  • Bykomende inligting: Sports Illustrated

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

electricmango ·

Of om te kyk waar moet hy sy 100de miljoene spandeer want golf is vreeslike harde werk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.