Oosthuizen op koers om Mauritius Ope te wen

Louis Oosthuizen by die Mauritius Ope. (Foto: Twitter/ DP World Tour)

Die Heritage La Réserve-gholfbaan in Mauritius pas Suid-Afrika se Louis Oosthuizen soos ʼn  handskoen. Hoe dan anders? Hy was immers die medeontwerper daarvan saam met die argitek Peter Matkovich.

Nou pluk hy opnuut die vrugte daarvan.

Oosthuizen het Saterdagoggend tydens die Mauritius Ope vier houe agter die voorloper in die derde ronde afgeslaan.

Maar ná drie arende en vier voëltjies het Oosthuizen na vore geskiet en die voortou met een hou voor sy landgenoot Jacques de Villiers geneem (203, -13).

Oosthuizen, wat 65 houe aangeteken het, is op 202 houe (-14) stewig op koers om sy tweede opeenvolgende toernooi te wen nadat hy verlede week op die Leopard Creek-baan langs die Kruger-wildtuin eerste in die Alfred Dunhill-kampioenskap was.

Dit het gevolg ná ʼn verloordroogte van vyf jaar.

Engeland se Laurie Canter (205, -11) is derde, met die Suid-Afrikaners Jaco Prinsloo en Jayden Schaper saam vierde op 206 (-10), vier houe agter Oosthuizen.

“Ek dink dit is die eerste keer dat ek drie arende in dieselfde ronde aangeteken het en boonop met ʼn sethou op die 8ste putjie misluk het om ʼn vierde arend te behaal,” het Oosthuizen in sy media-onderhoud gesê.

“Ek speel so goed, maar dit gaan alles afhang hoe ek myself gaan bestuur en wat my denkproses op die baan gaan wees,” het Oosthuizen bygevoeg.

Oosthuizen het in sy drie rondes van 68, 69 en 65 reeds 14 voëltjies en drie arende aangeteken en net op ses putjies houe aan baansyfer afgestaan.

Suid-Afrika se Pieter Moolman en Lyle Rowe het tellings van onderskeidelik 69 en 70 aangeteken en is op 207 (-9), wat een hou beter is as dié van hul landgenote Darren Fichardt en Dylan Naidoo, die twee Duitsers Marcel Schneider en Marcel Siem, en Paul Waring van Engeland (almal 208, -8).

* In die PNC-kampioenskap (die ou vader-en-seun-toernooi) wat in Orlando in Florida oor twee rondes op die Ritz-Carlton-baan gespeel word, het die Amerikaner Matt Kuchar en sy seun, Cameron, die voortou met 57 houe geneem.

Hulle is drie houe voor die spanne van Bernard Langer, Vijay Singh, Retief Goosen en David Duval, wat almal saam op 60 houe op die sopnat baan geëindig het.

Tiger Woods, wat saam met sy 14-jarige seun Charlie speel, se sak word deur sy dogter, die 16-jarige Sam, gedra.

Die Woods-span het 64 houe aangeteken nadat Tiger swak geset het en is na alle waarskynlikheid buite die wedloop in dié gewilde toernooi.

Bronne: European Tour en CBS

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.