Die ure se spel wat Donderdag verlore gegaan het, het nou die bisarre geval veroorsaak waar die twee voorlopers in die toernooi, Dustin Johnson en Andrew Landry, onderskeidelik twee en een ronde voltooi het.
Johnson het Vrydag twee rondes gespeel en die eerste speler geword wat nie oor ʼn volle ronde ʼn hou laat val het nie. Sy eerste ronde (67) het hom een hou agter Landry geplaas, met laasgenoemde wat Vrydag net ʼn enkele hou gespeel het toe hy sy onderbreekte ronde op die 18de putjie met ʼn voëltjie afgesluit het.
Landry moes toe Vrydag uitsit, terwyl Johnson volgens die aanvanklike afslaantye sy tweede ronde moes afhandel. Hy het dit met 1-onder gedoen en is nou na twee rondes 4-onder op 136 houe. Landry is na twee dae ook vier onder, maar na net een ronde!
♦ Die drie gunstelinge, Jason Day, Jordan Spieth en Rory McIlroy, het gemengde welslae gehad. Spieth was na een ronde 2-oor, terwyl McIlroy (77) en Day (76) se wenkanse aan die kwyn is en hulle seker al die afsnytelling in die agterkop het.
♦ Die Suid-Afrikaners het ook maar gesukkel. Brandon Grace en Retief Goosen het die beste gevaar met 73; Louis Oosthuizen en Ernie Els was 5-oor op 75; Charles Schwartzel, 76 en Thomas Aitken, 79, gaan sukkel om die valbyl na twee rondes vry te spring.
♦ Sinvolle verskaffing van tellings is nie moontlik met party spelers wat een ronde gespeel het, ander wat halfpad deur hul tweede is en sommige wat reeds die tweede ronde voltooi het nie.
As aanhanger van gholf is my vlakke van frustrasie al net so hoog. Ek kan net dink hoe die spelers voel. Ek hoop die weer verbeter en dat die organiseerders ‘n ander plan kan maak.
Innige meegevoel johann ;)