Rory klop Max én vroue in ‘Skins’-toernooi

Rory McIlroy (en die liefdadigheidsorganisasies van sy keuse) was die groot wenner by die skins-toernooi. (Foto: Mike Ehrmann/Getty Images/AFP)

Wanneer Rory McIlroy op dreef is, sit dit nie sommer in enigiemand se broek om hom te klop nie.

Dít het die drie Amerikaners Max Homa, Lexi Thompson en Rose Zhang Dinsdagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) geleer toe hulle in Florida met die Noord-Ier meegeding het.

Die viertal gholfsterre het by die The Park-gholfklub in West Palm Beach in die negende weergawe van die The Match-reeks gespeel. Dit was die eerste keer dat daar mans- en vrouedeelnemers was wat mekaar probeer uitstof het.

Die spelers het 12 putjies onder spreiligte gespeel en mekaar individueel in ʼn Skinsformaat die stryd aangesê. Elke putjie het ʼn sekere geldwaarde gehad vir die wenner, met die prysgeld wat na die volgende putjie oorgedra is as twee of meer spelers saam die beste telling aangeteken het.

McIlroy was die grootste wenner met ʼn algehele verdienste van $2,4 miljoen (nagenoeg R45 miljoen), terwyl Thompson $200 000 (sowat R3,8 miljoen) laat inrol het.

Homa en Zhang is met leë hande huis toe.

Die geld wat McIlroy en Thompson gewen het, beland nie ʼn hul eie sak nie, maar word aan ʼn liefdadigheidsorganisasie van hul keuse geskenk.

“Dit was ʼn aangename aand en die pret wat ons op die baan gehad het sal my bybly.

“The Park is ʼn wonderlike gholffasiliteit en die atmosfeer met al die mense was regtig wonderlik,” het McIlroy agterna gesê.

Volgens Zhang was hierdie ʼn heel nuwe ervaring vir haar en het sy effens ontuis in die uitgelese geselskap gevoel.

“Ek het dit egter geniet en baie geleer, wat hopelik kan help met alles wat in die toekoms wag,” sê die onervare geldspeler wat ook aan die Stanford-universiteit studeer. Sy skryf juis Maandagaand eksamen en het dadelik na afloop van die stryd na Kalifornië teruggekeer vir haar studieverpligtinge.

Die aand het op ʼn hoë noot vir Thompson begin toe sy die tweede putjie met ʼn arend ingeoes het. Dit was egter die eerste en laaste keer dat enigiemand McIlroy kon troef.

Die wêreld se naasbeste speler en viermalige Majors-kampioen het daarna die vierde, sesde en agtste putjies verower om $800 000 (sowat R15 miljoen) agter sy naam te skryf.

Toe daar oor die laaste vier putjies geen wenner was nie, is ʼn uitspeelstryd beslis om die wenner van die oorblywende prysgeld te bepaal. McIlroy het geseëvier nadat hy die balletjie van sowat 100 m net meer as ʼn meter vanaf die blikkie geslaan het. Die ander drie kon nie nader kom nie.

Die waarde van die laaste Skins-toernooi was $1,6 miljoen (sowat R30 miljoen), wat ʼn bedrag van $500 000 (sowat R96 miljoen) ingesluit het wat deur ʼn vriend van McIlroy bewillig is. Gerugte wil dit hê dat dit Tiger Woods is wat dié skenking gedoen het.

  • Bykomende inligting: Golf Digest

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.