Scheffler, McIIroy vuurwarm

Rory McIlroy in aksie. (Foto: Kevin C. Cox / Getty Images via AFP)

Die son het Vrydag helder op twee van die wêreld se voorste drie spelers, Scottie Scheffler van Amerika en Rory McIlroy van Noord-Ierland, in die WGC-Dell Technologies se putjiespeltoernooi in Austin, Texas, geskyn. Die wêreld se naasvoorste speler, die Spanjaard John Rahm, was nie so gelukkig nie.

McIlroy het sy kragmeting met die Amerikaner Keegan Bradley met 3 en 2 gewen om tot die laaste ronde van 16 spelers deur te dring, waar hy teen die Australiër Lucas Herbert te staan sal kom.

Scheffler, die voorste speler op die wêreldranglys, het sy landgenoot Tom Kim met 3 en 2 geklop en speel nou teen JT Poston.

Rahm het met 5 en 4 teen Billy Horschel van Amerika vasgeval.

Die ander bekende spelers wat uitgeskakel is, sluit onder andere die drie Engelsmanne Damian Fitzpatrick, Tyrrell Hatton en Tommy Fleetwood in.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout is in die vroeë rondes met 5 en 4 deur Adrian Meronk van Pole geklop.

Duitser loop voor by Steyn City

By die Steyn City-gholfbaan, wat tussen Lanseria en Fourways geleë is, het die Duitser Nick Bachem die voortou ná die tweede ronde van die Jonsson Workwear-Ope geneem.

Bachem het 66 houe in Vrydag se tweede ronde aangeteken, wat hom op 131 houe (-13) gelaat het.

Die toernooi is deel van die Sonskynreeks en DP World Tour.

Bachem, wat volgens die Sonskynreeks se webwerf slegs ʼn paar dae gelede nog branders in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap gery het, is een hou voor die Fransman Romain Langasque en Sami Valimaki van Finland, wat albei op 132 (-12) geëindig het.

Hulle word in die vierde posisie deur Gavin Green van Maleisië, Kalle Samooja van Finland, Suid-Afrika se Martin Vorster en Ockie Strydom, die Fransman Julien Brun en nog ʼn Duitser, Marcel Schneider, (almal op 133, -11) gevolg.

Drie spelers, onder wie Suid-Afrika se Hennie O’Kennedy, is op 134 (-10).

Uitslae vir die PGA-reeks

In die Amerikaanse PGA-reek se Corales-kampioenkap wat op die Karibiese Eilande beslis word, loop Matt Wallace van Engeland (133, -11) met een hou voor.

Hy word gevolg deur die Amerikaner Wyndham Clarke en Samuel Stevens (albei 134, -10).

Suid-Afrika se MJ Daffue is op 139 (-5) en Erik van Rooyen op 141 (-3).

In die Amerikaanse LPGA-vrouereeks se Drive On-toernooi wat in Arizona beslis word, loop Jenny Shin (Korea), Moriya Jutanugarn van Maleisië en Maddie Szeryk van Kanada (almal 132, -12) met een hou voor Lilia Vu van Amerika (133, -11).

Suid-Afrika se Paula Reto is op 139 (-5) ná die tweede ronde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.