Scheffler steek tong uit op TPC Sawgrass

Die Amerikaner Scottie Scheffler het Sondagaand nog ʼn belangrike mylpaal in sy gholfloopbaan verbygesteek toe hy die Spelerskampioenskap ʼn tweede agtereenvolgende keer gewen het. (Foto: Jared C. Tilton/Getty Images/AFP)

Die Amerikaner Scottie Scheffler het Sondagaand op TPC Sawgrass in Ponte Vedra, Florida, nog ʼn belangrike mylpaal in sy gholfloopbaan verbygesteek toe hy die Spelerskampioenskap ʼn tweede agtereenvolgende keer gewen het.

Die 27-jarige Scheffler, wat reeds die voorste speler op die wêreldranglys is, het met ʼn rekord-agterstand van vyf houe agter sy landgenoot Wyndham Clark afgeslaan, met nog ʼn Amerikaner, Xander Schauffele, vier houe voor hom ná die derde ronde.

Maar Scheffler het met ʼn skitterende 64 houe in die laaste ronde na vore geskiet om op 268 houe (-20) eerste te eindig om die eerste speler te word wat die toernooi twee keer in ʼn ry kon wen.

Hy het ses voëltjies en ʼn arend in sy laaste ronde aangeteken en nie een keer ʼn hou aan baansyfer afgestaan nie.

Scheffler het een hou voor sy drie landgenote, Brian Harman, Clark en Schauffele, geëindig (almal 269, -19).

Matt Fitzpatrick van Engeland was vyfde (272, -16), gevolg deur Si Woo Kim (Suid-Korea) en Hideki Matsuyama van Japan saam sesde op 273 (-15).

Scheffler is nou op die spoor van die legendariese Jack Nicklaus, wat die Spelerskampioenskap drie keer kon wen.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout het ook ʼn baie goeie toernooi beleef toe hy op 277 houe (-11) saam 13de geëindig het.

Bezuidenhout het bykans $489 000 verdien (sowat R9,1 miljoen) en het sy posisie op die wêreldranglys ʼn stewige hupstoot gegee.

Scheffler, wat met ʼn seer nek gesukkel het en in die tweede ronde behandeling op die baan ontvang het, het met sy eerste plek ʼn allemintige $4,5 miljoen (bykans R84 miljoen) verdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.