Skoliere se spaarvarkies glimlag ná toernooi

Wandré Snyman ontvang sy wentjek van Dieter Snyders. Foto: Verskaf.

Dieter Snyders het op die vooraand van die eerste Bridge the Gap-toernooi die hoop uitgespreek dat gholf uiteindelik die groot wenner moet wees.

En ná ʼn aksiebelaaide dag op die Wingatepark-buiteklub in Pretoria kan hy beslis baie tevrede rondstap – die toernooi was immers ʼn dawerende sukses.

“Trouens glo ek dat dinge nie eintlik beter kon verloop het nie. Die toestande was uitdagend en net 50% van die spelers kon die baan in minder as 80 houe tem,” het Snyders laat weet.

Die toernooi was ʼn eerste vir Suid-Afrikaanse hoërskoolspelers met dié dat hulle ook nou hul stokke vir ʼn wentjek kon swaai.

Wandré Snyman (70 houe) het R11 000 in die sak gesteek, terwyl Kiera Floyd (72 houe) tweede geëindig het en R8 000 ontvang het.

“Bridge the Gap bied entoesiastiese hoërskoolspelers die geleentheid om as amateurs in ’n professionele opset en omgewing aan ’n mededingende toernooi deel te neem. Die inisiatief bemagtig ʼn jong en opkomende speler – veral wat die rentmeesterskap van sy finansies betref.”

Snyders hoop dat die toernooi se gewildheid net sal toeneem.

“Sedert die afloop van die toernooi kontak mense my van regoor die land om by Bridge the Gap betrokke te raak. Hierdie was ʼn baie goeie begin, maar nou moet ʼn mens daarop voortbou.”

Die datum van die volgende toernooi sal vroeg in 2023 bevestig word.

Die dag se groot wenners:

  1. Wandré Snyman (70 houe) ontvang die wentjek van R11 000.
  2. Kiera Floyd (72 houe) het R8 000 in die sak gesteek.
  3. Joshua Koekemer en Mojalefa Nala (73 houe) het R5 600 ontvang.
  4. Ses spelers – Bea Breedt, Dian Kruger, Etienne de Bruin, Marno Lange, Matthew Bennett en Ruben Janse van Rensburg – het gelykop met 74 houe elk gespeel. Hulle is elkeen met R3 300 beloon.
  • Volgens Snyders is daar altesaam R50 000 is aan die spelers uitbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.