Soet vir McKibbin, suur vir McIIroy

Noorweë se Viktor Hovland by die Muirfield Village-buiteklub in Dublin, Ohio, waar hy Sondag sy vierde toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks gewen het. (Foto: Michael Reaves/Getty Images via AFP)

Die Noorweër Viktor Hovland het laat Sondagaand (SA tyd) sy vierde toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks gewen toe hy die Amerikaner Denny McCarthy op die eerste putjie van ʼn uitspeelstryd van die Memorial-toernooi geklop het.

Die toernooi is by die Muirfield Village-buiteklub in Dublin, Ohio, beslis en het baie hoë eise aan die spelers gestel.

Hovland het groot lof gehad vir die legendariese Jack Nicklaus, wat die baan ontwerp het en die beskermheer van dié toernooi is.

Volgens die BBC het Hovland gesê dit was ʼn onwerklike gevoel dat Nicklaus sy vordering gevolg het.

“Hy het my hand geskud en ʼn paar woorde van aanmoediging gegee,” het Hovland gesê.

Die Noorweër, wat 70 houe in die laaste ronde aangeteken het, en McCarthy, wat 69 houe aangeteken het, het albei op 281 houe (-7) geëindig.

Die wêreld se voorste speler op die ranglys, Scottie Scheffler, het die kaarte byna deurmekaar geskommel toe hy 67 houe in die laaste ronde aangeteken het.

Scheffler, wat byna twee uur voor die voorlopers afgeslaan het nadat hy in die eerste drie rondes gesukkel het, het derde op 282 (-6) geëindig.

Hy het een hou voor Si-Woo Kim van Korea geëindig met Justin Spieth en Andrew Putnam (albei Amerika) wat saam vyfde geëindig het op 284 (-4).

Die Noord-Ier Rory McIlroy, wat vroeg in die ronde voorgeloop het, het 75 in die laaste ronde aangeteken wat sy kanse gekelder het.

Hy het saam met die Amerikaner Adam Schenk op 285 (-3) geëindig.

Suid-Afrika se Garrick Higgo (290) en Christiaan Bezuidenhout (291) het ook ʼn dun snytjie van die geldkoek gekry.

Rory McIlroy van Noord-Ierland. (Foto: Michael Reaves/Getty Images via AFP)

* Hoewel McIlroy nie die pas kon volhou nie, was hy verheug toe hy verneem het dat sy jong landgenoot, Tom McKibbin, sy deurbraak gemaak het toe hy die Europese Ope, wat deel is van die DP World Tour, met een hou gewen het.

Die 20-jarige McKibbin speel by dieselfde Hollywood-gholfklub in County Down in Noord-Ierland waar McIlroy geslyp is.

“Ek ken hom vandat hy tien jaar oud is. Ek het elkeen van sy houe vanoggend dopgehou. Tuis weet ons almal dat hy die potensiaal het, maar om op 20-jarige ouderdom deur te breek en sy eerste Europese titel te wen … daar wag ʼn groot toekoms op hom,” het McIlroy aan Golf Channel gesê.

McKibbin (283, -9) het twee houe voor Julien Guerrier van Frankryk en die twee Duitsers Marcel Siem en Maxmilian Kiefer geëindig, wat albei op 285 klaargemaak het.

Frederic Lacroix (Frankryk) was op 287 houe vyfde, met Alexander Björk (Swede), David Law (Skotland), Jordan Smith (Engeland) en John Axelson (Denemarke) wat op 288 (-4) geëindig het, in die sesde posisie.

Suid-Afrika se Bryce Easton (291), Jayden Schaper (293), Justin Walters (296), Wilco Nienaber (297), Deon Germishuys (301) en Zander Lombard (304) het maar klippe gekou.

* In New Jersey het Suid-Afrika se Ashleigh Buhai 64 houe in die laaste ronde van die Americas-Ope (Amerikaanse LPGA-reeks) aangeteken om saam sewende (282, -6) te eindig.

Haar puik ronde het gevolg nadat sy ná die derde ronde ver agter die voorlopers was.

Die toernooi is deur die Amerikaner Rose Zhang (279, -9) gewen, met haar Amerikaanse landgenoot Jennifer Kupcho tweede ná ʼn uitspeelstryd teen Zhang.

Dit was Zhang se eerste toernooi as beroepspeler en sy is die eerste speler wat dit vermag het sedert Beverly Hanson dit in 1951 ook reggekry het.

Hae-Ran Ryu (Korea) was Sondag derde met Indië se Aditi Ashok, Ayaka Furue (Japan) en Eun-Hee Ji van Korea saam vierde op 281 (-7).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.