Tiger klaar met Nike

Die gholflegende Tiger Woods het na raming sowat R12,3 miljard oor 27 jaar in borgskappe van Nike ontvang. (Argieffoto: Getty Images/AFP)

En so kom alle goeie dinge tot ʼn einde.

Die gholffenomeen Tiger Woods en die ikoniese sportuitrustingmaatskappy Nike se paaie het vandeesweek ná amper 30 jaar geskei. Nike was sedert 1996 een van Woods se grootste borge toe hy hom by die geldgeledere aangesluit het.

Woods se eerste kontrak was ʼn ongekende $40 miljoen (bykans R750 miljoen) oor vyf jaar waarna die gholfster en Nike in 2000 ooreengekom het om die borgskap tot $100 miljoen op te stoot.

Met Woods wat die gholftitels en majorkrone links en regs ingeoes het, het Nike in 2005 die hand nog dieper in die sak gesteek en Woods ʼn ongelooflike $320 miljoen (sowat R6 miljard) oor die volgende agt jaar betaal.

Met beserings wat sy tol begin eis en Woods se sukses op die gholfbaan beperk het, het die miljardêr-sportster in 2013 ʼn laaste kontrak van tien jaar met Nike gesluit. Die kontrak het $200 miljoen beloop.

Volgens Forbes het Woods dus altesame $660 miljoen (sowat R12,3 miljard) oor 27 jaar van Nike ontvang. Forbes sê hy skat Nike het waarde van minstens tien keer meer uit die blootstelling gekry.

Net in 2019 se laaste ronde van die Amerikaanse Meesterstoernooi het Nike skynbaar sowat $25 miljoen aan blootstelling gekry toe Woods sy vyftiende majortitel ingeoes het.

Volgens Forbes is Woods vandag $1,1 miljard werd.

Hy het in sy gholfloopbaan $121 miljoen aan prysgeld verdien met die res van sy geskatte $1,8 miljard-inkomste wat uit borgskappe en optreegeld gekom het.

Nike skaal tans sy gholfbedrywighede af en het einde verlede jaar aangekondig dat hy vanjaar meer as $2 miljard aan koste gaan sny om die voortbestaan van die maatskappy te verseker.

Die onderneming het reeds in 2016 die vervaardiging van gholfstokke en balletjies gestaak, wat Woods genoop het om ʼn kontrak daarvoor met TaylorMade te sluit.

Woods het egter steeds Nike se klerereeks en skoene gedra.

(Argieffoto: Getty Images/AFP)

Dit is nie net Woods se borgskapooreenkoms met Nike wat klaar is nie.

Die Aussie Jason Day en die Yank Justin Thomas het ook nie meer kontrakte met Nike nie.

Thomas word deesdae in die klere van Greyson Clothiers gesien. Só ook Woods se seun, Charlie.

Die gewese Ralph Lauren-ontwerper Charlie Schaefer is die eienaar van Greyson en volgens gerugte staan Woods op die punt om ʼn borgskapooreenkoms met Greyson te sluit en ook ʼn aandeel in die maatskappy te kry.

“Ek was bevoorreg om ʼn vennootskap met een van wêreldsport se mees ikoniese handelsmerke te hê. Dit is nou verby en ek is dankbaar vir alles wat hulle gedoen het.

“Daar sal egter vir seker ʼn nuwe hoofstuk wees. Sien julle in LA,” het Woods Maandag op sosiale media gesê.

Die LA-verwysing is na die stad Los Angeles, waar die Genesis-uitnodigingstoernooi by die Riviera-buiteklub in Pacific Palasades beslis word.

Dié toernooi begin op 15 Februarie en volgens alle aanduidings sal Woods deelneem. Hy is ook die gasheer van die toernooi. Dit sal die perfekte geleentheid vir Woods wees om ʼn nuwe borgskap bekend te stel.

Nike het Maandag in ʼn verklaring gesê hy is trots en dankbaar dat die maatskappy deel kon wees van Woods se loopbaan.

“Ons het gesien hoe Tiger rekords laat spat en generasies wêreldwyd inspireer. Hy het die grense van sport herdefinieer en Nike is dankbaar om deel daarvan te kon wees,” het die maatskappy gesê.

  • Bykomende inligting: Forbes, Golf Digest

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.