Vierde SA Ope-titel wink vir Buhai

Ashleigh Buhai tydens die Britse Ope-gholftoernooi vir vroue wat op Muirfield in Skotland gespeel word. (Foto: Neil Hanna / AFP)

Suid-Afrika se major-gholfkampioen, Ashleigh Buhai, se visier is vandeesweek op ’n vierde SA Ope-titel.

Buhai, wat verlede jaar die Britse Ope op Muirfield in Skotland gewen het, is een van altesame 132 spelers wat van Woensdag tot Saterdag sake op die Steenberg-baan in Tokai sal uitspook om SA gholf se mees glansryke titel.

Dit is die 30ste bestaansjaar van die SA Ope, wat in oorleg met die Europese vrouereeks aangebied word en met ’n pryspot van €320 000 (sowat R6,2 miljoen) spog. Die toernooi word oor 72 putjies beslis.

Buhai, tans no. 20 op die wêreldranglys, het die afgelope naweek sewende in die LPGA-reeks se HSBC-kampioenskap in Singapoer geëindig en blyk goed op dreef te wees in haar strewe na nóg ’n SA Ope-titel.

Verlede jaar was ’n glinsterjaar vir die 33-jarige Buhai gewees.

Afgesien van haar sege in die Britse Ope, het Buhai die 2022-seisoen in Desember op ’n hoë noot afgesluit met ’n oorwinning in die Australiese Ope in Melbourne.

Die Johannesburger het vanjaar nog net in drie toernooie gespeel, maar elke keer onder die toptien klaargemaak.

“Ek kan nie wag om weer in Suid-Afrika te speel nie. Die SA Ope lê my na aan die hart en ek gaan alles probeer om die toernooi te wen,” het Buhai tydens die onlangse bekendstelling van die toernooi gesê.

Die 42-jarige Lee-Anne Pace sal ook vandeesweek deelneem.

Pace het die SA Ope reeds vyf keer gewen en sy is die verdedigende kampioen. Sy kan nooit onderskat word nie en gedy in strawwe omstandighede.

Ander gewese SA Ope-kampioene wat vandeesweek weer gaan probeer om sukses te smaak, is Alice Hewson van Engeland, Marianne Skarpnord van Noorweë, Indië se Diksha Dagar en die plaaslike strydros Tandi McCallum.

Daar is egter ’n groot groep talentvolle groentjies in die veld wat hul meer ervare teenstanders na die kroon kan steek, sou dinge vir hulle vlot verloop.

Een van hulle is Lily May Humphreys van Engeland, wat koning gekraai het in die Joburg Ope op Modderfontein, nadat sy die vorige paar weke aan die deur geklop het.

Baie oë sal ook op die twee jong SA sterre Kiera Floyd en Kaleigh Telfer wees, wat soos Humphreys hierdie seisoen voortreflike spel opgedis het en tussen hulle met vier toptien-plekke spog.

Laastens kan verwag word dat Casandra Alexander, die wenner op Sun City en Glendower, asook die Sweed Moa Folke, wat op Fancourt geseëvier het, weer hul stemme dik sal wil maak nadat hulle die afgelope ses weke gewys het hulle beskik oor die talent om die heel bestes te troef.

Hoe dit ook al sy, die speler wat met die louere wil wegstap, sal straks met Buhai moet afreken.

Haar spelpeil hierdie seisoen is op ’n opwaartse kurwe en sy lyk deesdae baie meer op haar gemak op die gholfbaan as voorheen. Major-sukses bring nie net roem en groot geld nie, maar duidelik ook rustigheid en sakke vol selfvertroue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.