Woods in LA in aksie

Tiger Woods. (Foto: Mike Ehrmann/Getty images/AFP)

Scottie Scheffler is dalk die wêreld se nuwe no. 1-speler ná sy sege Sondag in die Phoenix Ope, maar alle oë sal vandeesweek op Tiger Woods wees wanneer dié legendariese gholfster sy terugkeer tot die Amerikaanse PGA-reeks maak.

Die 47-jarige Woods wat deesdae die 1 294ste posisie op die wêreldranglys beklee, is van Donderdag af in aksie in die Genesis Ope, wat op die strawwe Riviera-baan in die Pacific Palisades-buurt in die weste van Los Angeles beslis word.

Woods het in 1992 as 16-jarige amateur sy debuut in die Amerikaanse PGA-reeks op die moeilike Riviera-baan gemaak. Hy het ná rondes van 72 en 75 nie die valbyl vrygespring nie.

Die laaste keer wat Woods op Riviera in aksie was, hou egter geen goeie herinneringe in vir die magiese Yank nie. Hy was die dag ná die toernooi – op 23 Februarie 2020 – in ʼn motorongeluk toe hy op pad was om reklamewerk vir Genesis te gaan doen.

Woods het veelvuldige beserings in die ongeluk opgedoen en so byna sy regtervoet verloor. Dit is juis hierdie beserings wat sy loopbaan tot ʼn vroeë stilstand gebring het en sy deelname aan toernooie sedertdien tot die minimum beperk het.

“Ek is reg om in ʼn volwaardige PGA-toernooi te speel,” het Woods sy deelname aan 2023 se Genesis Ope die afgelope naweek op Twitter aangekondig. Hy hou Woensdag ʼn perskonferensie by Riviera, waar hy as gasheer sal optree vir die toernooi wat met ʼn reusepryspot van $20 miljoen (sowat R360 miljoen) spog.

Woods het einde verlede jaar saam met Rory McIlroy, Justin Thomas en Jordan Spieth in ʼn liefdadigheidstoernooi in Florida gespeel. Hy was ook die daaropvolgende week saam met sy seun, Charlie, in aksie in die PnC-spantoernooi oor 36 putjies. Spelers ry egter met gholfkarretjies en dit word nie gereken as ʼn amptelike toernooi nie.

Sedert Woods Vrydag sy deelname aan die Genesis Ope bevestig het, het kaartjieverkope glo deur die dak geskiet en is daar niks meer beskikbaar vir die naweek nie. Laatslapers sal die 15-malige Major-wenner se spel op die televisie moet volg sou hy die valbyl ná die eerste twee rondtes vryspring.

Scheffler, wat Sondag die Phoenix Ope met twee houe gewen het ná ʼn puik telling van 65 oor die laaste 18 putjies, het breed geglimlag oor sy terugkeer na die eerste plek op die wêreldranglys.

Oor Woods se deelname op Riviera het Scheffler reeds voor sy sege gesê dis fantastiese nuus vir gholf.

“Ek het Tiger gevolg terwyl ek grootgeword het. Hy is die rede hoekom ek gholf speel. Hy is die rede hoekom daar soveel geld in die spel is. Dis fantastiese nuus dat hy op Riviera gaan speel. Ek hoop dinge verloop goed vir hom,” het Scheffler Vrydag gesê nadat die nuus oor Woods bekend geword het.

Sweed wen weer reeks vir vroue

Die Sonskyn-reeks vir vroue het Sondag nog ʼn Sweedse wenner opgelewer toe die 27-jarige Moa Folke op Fancourt in George as die Dimension Data Pro-Am-kampioen gekroon is.

Folke het ʼn puik 64 – agt houe minder as baansyfer – in die laaste rondte gespeel om uit die bloute die titel te verower.

Sy het op ʼn totaal van 208 (-8) drie houe voor Anne-Lisa Courdel van Frankryk (72 vir 211) geëindig, met Suid-Afrika se Lee-Anne Pace (70 vir 212) wat derde klaargemaak het.

Folke se landgenoot Linn Grant het verlede jaar op Fancourt geseëvier – een van haar drie seges in die Sonskyn-reeks wat haar loopbaan soos ʼn vuurpyl lanseer het. Sy tel tans onder die top-30 op die wêreldranglys nadat sy verlede jaar as groentjie in Suid-Afrika begin speel het.

Die vroue-reeks skuif vandeesweek na Atlantic Beach in Melkbosstrand vir die Kaapstad Ope.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.