Woods wil meer gholf speel

Die legendariese gholfspeler Tiger Woods maak sy terugkeer. (Argieffoto: Andrew Reddington/Getty Images/AFP)

Ondersteuners van Tiger Woods sal in die sewende hemel wees nadat die Amerikaanse gholflegende Woensdag gesê het hy is reg om vorentoe heelwat meer gholf te speel as wat die geval was die afgelope paar jaar.

Die 47-jarige Woods maak Donderdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) sy terugkeer tot die Amerikaanse PGA-reeks wanneer hy in die Bahamas in die gesogte Hero-wêrelduitdaagtoernooi afslaan.

Die Hero-toernooi se uitsoekveld bestaan uit slegs twintig spelers, wat op grond van hul posisies op die wêreldranglys genooi word om in Albany mee te ding.

Woods het ’n spesiale uitnodiging van die borg ontvang om sy terugkeer van stapel te stuur.

Dit sal die eerste van twee verskynings in drie weke in Woods se speelprogram wees nadat hy ’n suksesvolle enkeloperasie ondergaan het ná sy onttrekking aan die Amerikaanse Meesters in April.

Die vyftienmalige majorkampioen speel oor twee weke saam met sy seun, Charlie, in die jaarlikse PnC-toernooi in Florida, waarvan die veld uit majorkampioene en hul familielede bestaan.

“Die operasie was suksesvol en ek het geen pyn meer in my enkel nie. Ek het ook nie meer probleme om te stap nie, so die tyd is reg om meer te begin speel.

“In hierdie stadium is die plan om aanstaande jaar in een toernooi per maand te speel. Dit is waarna ek mik en ek dink dit is haalbaar,” het Woods op die vooraand van sy Bahamas-terugkeer gesê.

Die gewese no. 1-speler in die wêreld sê sy spel is verroes na maande op die kantlyn.

“Ek het maar onlangs weer begin oefen en is net so nuuskierig soos almal oor hoe sake vandeesweek gaan verloop. Fisiek is ek reg, maar my spel kort beslis skaafwerk. Ek brand egter om weer te speel en mis die mededinging wat daar is wanneer toernooie beslis word.”

Die gholfster het voorts sy mening uitgespreek oor die verrassende vredesooreenkoms tussen die PGA- en die omstrede LIV-reeks wat in Junie aangegaan is en tot die staking van regsgedinge teen mekaar gelei het.

“So iets kan nooit weer gebeur sonder dat die spelers vooraf geraadpleeg word nie.

“Dis hoekom ek nou op die direksie van die organisasie dien. Ons het seker gemaak die spelers het in die toekoms die meerderheid stemme op die direksie en gevolglik die grootste sê oor enige besluite.”

Volgens Woods word daar hard agter die skerms gewerk om teen 31 Desember ’n werkbare ooreenkoms oor die toekoms van die spel met die LIV-reeks te sluit.

Dié ooreenkoms sal bepaal hoe beroepsgholf in die toekoms geadministreer gaan word, waar spelers vorentoe kan speel en watter strafmaatreëls, indien enige, teen die LIV-rebelle ingestel gaan word vir hul oorlopery na die Saoedi-Arabiese gefinansierde reeks.

“Ek kan nie te veel geheime verklap nie, maar daar is verskillende opsies op die tafel. ’n Ooreenkoms kan voor die einde van die jaar aangegaan word. Dis wat almal wil hê,” het Woods bevestig.

Oor die moontlikheid dat hy Amerika se volgende Ryderbekerkaptein gaan wees, sê Woods dat hy nie nou tyd het om daaraan te dink nie.

Sy fokus is eenhonderd persent daarop om ’n aanvaarbare oplossing te vind vir die moontlike samesmelting van die PGA- en LIV-reekse.

Woods maak Donderdag in Albany sy terugkeer in die geselskap van sy groot vriend Justin Thomas.

Volgens die beroepswedders is Woods se kanse 80/1 om Sondag die wennerstrofee te lig.

Die gunsteling om weer boaan die voorlopersbord klaar te maak, is Viktor Hovland, wie se kanse om ’n derde agtereenvolgende oorwinning te behaal, op 4/1 gereken word.

Scottie Scheffler (9/2) en Max Homa (8/1) word as Hovland se grootste bedreigings beskou.

*Net nadat Woods die media toegespreek het, het die Europese Ryderbekerbase aangekondig dat die Engelsman Luke Donald weer die span sal lei wanneer hulle in 2025 in New York met die Yanks swaarde kruis.

Donald was die kaptein van die Europese span wat in September in Rome in Italië met 16,5-11,5 oor die Yanks geseëvier het.

Dit is die eerste keer sedert 1995 dat ’n Europese kaptein vir ’n tweede Ryderbekerstryd behou word, ongeag of hy suksesvol was in sy eerste probeerslag.

Bykomende bronne: Golf Monthly, Sky Sports.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.