Grand Prix: Hamilton ook maar net mens

Pierre Gasly sukkel dalk nog self om sy oë te glo nadat hy Sondag die Italiaanse Grand Prix op Monza gewen het. (Foto: F1/Twitter)

Tik enige Formule Een-ondersteuner met ʼn veertjie om, want as iemand sou voorspel het dat Pierre Gasly (Alpha Tauri) die Italiaanse Grand Prix op Monza sou wen, sou net kop geskud word.

Wat nog te sê dat Carlos Sainz (McLaren) in die tweede plek was, Lance Stroll (Racing Point) derde, Lando Norris (McLaren) vierde, Valtteri Bottas (Mercedes) vyfde en Daniel Ricciardo (Renault) sesde.

Wat dan van Lewis Hamilton (Mercedes) en die twee Ferrari’s van Sebastian Vettel en Charles Leclerc?

Wel, Hamilton was by die halfpadmerk gerieflik voor en alles het gedui op nog ʼn oorwinning, asook nog net een oorwinning duskant Michael Schumacher se rekordgetal van 91 loopbaanoorwinnings.

Maar toe slaan die noodlot toe: Leclerc het by Parabolica in ʼn muur vasgejaag en die ren is sowat 15 minute gestop om die wrak te verwyder en die muur te herstel.

Pierre Gasly (middel), Carlos Sainz en Lance Stroll op die podium. (Foto: F1/Twitter)

Gelukkig kon Leclerc, met die adrenalien wat vloei, terug kuipe toe hardloop.

Maar toe betaal Hamilton ʼn baie duur prys deur die kuipe onwettig binne te ry.

Het hy dan nie die twee waarskuwingsligte in die laaste twee draaie gesien flikker nie?

Dit het gelei tot ʼn verpligte kuipestop-straf van vyf sekondes (wat hom bykans 32 sekondes gekos het) en sy kanse was daarmee heen met al die motors wat van voor af weggespring het en net 27 rondtes oor.

Dit was ook ʼn nagmerriedag vir Ferrari, want Vettel moes vroeg tou opgooi nadat sy remme onklaar geraak het met Leclerc se ongeluk wat gevolg het.

Dit was merkwaardig om te sien hoe die Alpha Tauri-span fees vier en met hoeveel emosie die Franse volkslied op die podium aangehoor is.

Dit het nuwe lewe in Formule Een geblaas – net jammer dat daar geen toeskouer was om dit gade te slaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Annakapat ·

Hamilton het ‘n +10 sekonde straf gekry… Nie 5 sekonde nie!
En van heel laaste teruggekom en 7de geëindig.
Vat ‘n wêreldkampioen om dit te doen maar nogtans geluk aan Gasly!

twaalfboor ·

Ag siestog…… Schumacher het al heel laaste weg gespring en nogsteeds die wedren gewen. Kan jy DIT onthou? Toe het hy nog vir Beneton gery. Hamilton sal sy voortande gee om in Schumacher se klas te kan wees.

Moedeloos ·

Hamilton is nou nie en van my fans nie maar as jou kar goed is is jy ook goed. Seker tyd dat sy troontjie bietjie wankel voordat hy te groot kop kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.