50 vir Faf, maar RCB sukkel

Faf du Plessis het 61 lopies geslaan, maar die Royal Challengers Bengaluru het nogtans die onderspit gedelf teen die Mumbai Indians. (Foto: X/IPL)

Faf du Plessis het van voor gelei, maar die Royal Challengers Bengaluru (RCB) het nogtans sleg teen die Mumbai Indians in ʼn Indiese Premierliga (IPL)-wedstryd verloor.

Du Plessis, wat die kapteinskapleisels van RCB vashou, het 61 lopies van 40 aflewerings gemoker en sy span kon 196/8 in die toegelate 20 boulbeurte aanteken.

Jasprit Bumrah het egter met sy vyf paaltjies vir Mumbai uitgeblink en hy het gereeld met sy puik streepbalaflewerings die kolwers onder druk geplaas.

Daarna het die Indians se kolfmasjien teen die spoed van lig weggetrek met Ishan Kishan en Suryakumar Yadav wat vir ʼn kaleidoskoop van kleurvolle grenshoue gesorg het.

Daar was nog 27 aflewerings oor in die wedstryd toe Hardik Pandya die wedstryd met ʼn ses vir sy span beklink het.

Volgens Du Plessis het sy span net nie genoeg lopies op die telbord gehad nie; veral omdat RCB se boulers vanjaar sukkel om die mas op te kom.

“Mumbai se kolwers het ons onmiddellik op die agtervoet gehad en hulle het hoegenaamd nie met hul tydsberekening gesukkel nie. Ons moes 220 lopies geslaan het; ʼn telling van net meer as 190 lopies is net nie goed genoeg nie,” het die voormalige Protea-kaptein gesê.

  • Opsomming van die telkaart:

Royal Challengers Bengaluru 196/8 in 20 boulbeurte: Faf du Plessis 61, Dinesh Karthik 53* en Jasprit Bumrah 5/21.

Mumbai Indians 199/3 in 15,3 boulbeurte: Ishan Kishan 69, Suryakumar Yadav 52 en Will Jacks 1/24.

Uitslag: Mumbai Indians wen met sewe paaltjies.

  • IPL-punteleer:
  1. Rajasthan Royals: 8 punte ná vyf wedstryde
  2. Kolkata Knight Riders: 6 punte ná vier wedstryde
  3. Lucknow Super Giants: 6 punte ná vier wedstryde
  4. Chennai Super Kings: 6 punte ná vyf wedstryde
  5. Sunrisers Hyderabad: 6 punte ná vyf wedstryde
  6. Gujarat Titans: 6 punte ná ses wedstryde
  7. Mumbai Indians: 4 punte ná vyf wedstryde
  8. Punjab Kings: 4 punte ná vyf wedstryde
  9. Royal Challengers Bengaluru: 2 punte ná ses wedstryde
  10. Delhi Capitals: 2 punte ná vyf wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.