Balpeuter-wolk hang weer bo Aussies

Adam Zampa. Foto: Cricinfo.

Die Proteas is nie die enigste span by vanjaar se Wêreldbeker-kriekettoernooi wat vir ’n bietjie omstredenheid sorg nie: Die Aussies sukkel ook met hul eie sepie-draaiboek.

Die balpeuter-onweerswolk begin weer om die Aussies saamtrek nadat beeldmateriaal gewys het hoe hul bybreek-bouler, Adam Zampa, gedurende ’n boulbeurt sy hand in sy broeksak steek voor hy nóg ’n aflewering op die Oval afstuur.

Indië het vir Australië met 36 lopies geklop nadat hulle 352/5 in hul 50 boulbeurte aangeteken het. Zampa is vir 50 lopies in sy ses boulbeurte geslaan; dus het hy nie veel van ’n impak op die wedstryd gehad nie.

Tog was daar sosialemediagebruikers wat onmiddellik onraad vermoed het – veral omdat die Aussie-driemanskap van Cameron Bancroft, Steve Smith en David Warner verlede jaar deur ’n tugkomitee skuldig bevind is omdat hulle die toestand van die bal in ’n toets teen Suid-Afrika op Nuweland wou verander.

Bancroft het toe skuurpapier in sy sak weggesteek om die een kant van die rooi Kookaburra-bal vinniger grof te maak; waarskynlik in ’n poging om ʼn vroeër omgekeerde swaai in die wedstryd te bewerkstellig.

Hy is vir nege maande uit krieket geskors, terwyl Smith en Warner (albei leiersfigure in die span) vir 12 maande geskors is én van hul kapteinskap gestroop is.

Intussen het Australië se kaptein, Aaron Finch, gesê dat Zampa onskuldig aan balpeutery is en dat die aantygings sommer onsin is.

“Ek het nog nie self die foto’s onder oë gehad nie, maar ek weet dat hy (Zampa) altyd handverwarmers in sy sakke dra,” het Finch gesê.

Daar is geen amptelike klag teen Zampa ingedien nie en die skeidsregters was ook nie veel oor die hele insident gepla nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Koos ·

Hendrik, sal jy daarvan hou om te verloor, of te wen, of te speel teen ‘n span wat nie by die reëls hou nie? Vra enige span in die WB en ek wed jou hulle sal nie teen hulle wil speel as dit die geval is nie. Ongelukkig is hulle al reeds in die verlede, skuldig bevind aan bal peuter. Net so was SA vir lank in die spervuur oor die Hansie episode. Ek hoop werklik dat die Aussies onskuldig is aan hierdie aantyging en dat hulle hul fout nie weer sal herhaal nie. Wat SA betref is jy reg.

ChrisE ·

Wat is dit met die mense. Leer hulle nie of het hulle geen skaamte nie. As jy nie eers ‘n eerlike sport persoon kan wees nie hoe sal jy ‘n eerlike burger kan wees. Dit is mos maar soos die ou storie gaan. Die ou wou Australië besoek. Op die visum aansoek is die vraag, het jy ‘n kriminele rekord. Die ou vra toe is dit nog steeds nodig om ‘n kriminele rekord te hê.

JohanL ·

Ek weet nie wat in sy sak was nie en met Aussies is enige iets moontlik. Maar ek dink regtig in die geval moet die IKK eers hul eie agterplaas in orde kry.

Skeidsregters wat nie foutballe raaksien nie !!!!!!!!!!!!! En ek blameer die IKK dat hulle nog nie iets gedoen het nie. Ek dink Starc het omtrent 10cm oorgetrap toe hy na Gayle geboul het nd ie Aus/WI wedstryd. Skeidsregter het dit nie raakgesien nie – ongelooflik. En die volgende bal, wat toe natuurlik ‘n “free hit” MOES gewees het, word Gayle uitgehaal !!!! Enorme fout wat potensieel ‘n groot impak op wedstryd gehad het.

Hoekom die IKK nog nie die TV skeidsregter kon betrek om elke bal dop te hou nie, gaan my verstand te bowe. En dit hoef nie ‘n kyk-weer storie te wees nie. Die kameras is mos permanent op die boulstreep, so die TV skeidsregter moet dit net elke bal “lewendig” dophou. As hy dan dink die veldskeidsregter het ‘n foutbal gemis, kan daar vinnig gekyk word.

So ek dink regtig die IKK kan vir ‘n slag bietje hul huis in orde kry en iets sinvols doen, eerder as om “rook op te skop” waar daar dalk niks is nie.

Poot ·

@Pieter
Janee wragtag….. eerste vir my ook. Dalk is dit nog nie in 3de wêreld lande beskikbaar nie ????

En nou? ·

Die Proteas gebruik dit al vir jare as hulle in Engeland speel! So leer mens elke dag iets nuut!

En nou? ·

Dis is soos ‘n klein sakkie. Lyk amper soos die sous sakkies wat jy by eetplekke kry met tamatiesous ens in.
Jammer dit is in Engels, maar dis die beste beskrywing:
“Air-activated hand warmers contain cellulose, iron, water, activated carbon, vermiculite (water reservoir) and salt and produce heat from the exothermic oxidation of iron when exposed to air”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.