Bavuma: ‘Dit was nie ons beste poging’

Temba Bavuma. Foto: Surjeet Yadav/AFP.

Die Proteas het gister ’n gulde geleentheid om die T20-reeks teen Indië te beklink deur hul vingers laat glip toe hulle met 48 lopies in Visakhapatnam vasgeval het.

En om die wedstryd in ’n neutedop op te som: Indië was doodeenvoudig die beter span.

Ruturaj Gaikwad en Ishan Kishan se blitsige openingsvennootskap van 97 binne tien boulbeurte het eerstens die boulers op die agtervoet geplaas, waarna die Suid-Afrikaanse kolwers glad nie aan die gang kon kom nie.

Reeza Hendricks en Temba Bavuma het met hul tydsberekening gesukkel en hulle het teen minder as ses lopies per boulbeurt gekolf toe die Protea-kaptein sy paaltjie teen die einde van die vierde boulbeurt verloor het.

Daarna kon almal sien dat die Protea-kolflys voete van klei het.

Die individuele briljantheid van ’n David Miller, ’n Rassie van der Dussen en ’n Heinrich Klaasen het in die eerste twee wedstryde die wa deur die drif vir die besoekers getrek, maar wanneer een van dié drie kolwers vroeg sy paaltjie verloor, is daar nie juis veel versterkings op pad nie.

“Dit was glad nie ons beste poging nie en hul boulers het ons onder druk geplaas. Normaalweg probeer ons altyd om die toestande in die eerste twee boulbeurte te ontleed en daarna met meer vryheid te kolf. Ons kon dit egter nie regkry nie en ons was onder druk nadat ons vinnig ’n paar paaltjies verloor het,” het Bavuma ná die wedstryd gesê.

Die Suid-Afrikaners moet die beseerde Quinton de Kock met ’n seer hart mis – hy sorg altyd vir ’n positiewe aanloop tot die Protea-kolfbeurt.

“Quinton is ’n baie belangrike skakel in die span, maar hy is nie nou beskikbaar nie en dit help nie om daaroor te kla nie. Terselfdertyd weet ons wat Reeza kan doen en ons het vertroue in sy vermoë.”

Die vierde wedstryd in die reeks word Vrydag in Rajkot beslis.

  • Opsomming van telkaart:

Indië 179/5 in 20 boulbeurte: Ruturaj Gaikwad 57, Ishan Kishan 54 en Dwaine Pretorius 2/29.

Suid-Afrika 131/10 in 19,1 boulbeurte: Heinrich Klaasen 29, Harshal Patel 4/20 en Yuzvendra Chahal 3/20.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fran ·

Ai die klein mannetjie is darem nie baie goed nie. Nogal kaptein ook!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.