Bavuma, Elgar maak ook stem dik teen administrateurs

Temba Bavuma. Foto: ANA.

Die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (SACA) het ’n brief geskryf waar hy teen Krieket Suid-Afrika (KSA) se administrateurs uitvaar.

Die skrywe is onder meer deur Temba Bavuma (witbalkrieketkaptein), Dean Elgar (toetskrieketkaptein) en Dane van Niekerk (vrouekrieketkaptein) onderteken.

Nathi Mthetwa, Suid-Afrika se minister van sport, het Sondagoggend op sosiale media sy teleurstelling uitgespreek omdat KSA se lederaad nie die wysiging aan die beheerliggaam se grondwet aanvaar het nie, ten spyte van hul aanvanklike voorneme om dit wel te doen.

Hierdie wysiging behels ’n ooreenkoms tussen die lederaadslede en die tussentydse raad, wat deur Mthetwa aangestel is om KSA uit sy administratiewe verknorsing te probeer red.

Maar tydens ’n vergadering het net ’n paar van Suid-Afrika se 14 krieketunie-presidente tot die beoogde wysiging ingestem. Terselfdertyd was vyf presidente daarteen gekant, terwyl drie buite stemming gebly het.

Nathi Mthethwa. (Foto: GCIS)

Die wending beteken dat Mthethwa se geduld-uurglas leeggeloop het.

Regeringsinmenging is dus amper onvermydelik en daar is ’n moontlikheid dat die Proteas deur die Internasionale Krieketraad (IKR) uit wêreldkrieket geskors kan word.

In sy verklaring het SACA die minister vir sy geduld bedank, maar terselfdertyd gewaarsku dat regeringsinmenging ernstige gevolge sal hê; KSA se lederaad sal dus inderhaas hul sokkies moet optrek.

Volgens SACA sal die regering en die IKR se moontlike optrede ’n negatiewe invloed op toere, uitsaairegte en borgskappe hê. Die finansiële lewensvatbaarheid van die spel sal uiteindelik skade ly en krieket sal op alle vlakke benadeel word.

Dit alles in ’n jaar waar die Proteas se vrouekrieketspan briljante krieket speel en die manspan later aan die T20-Wêreldbeker moet deelneem.

“Die lederaad het nou strydig met onder meer die minister se versoek en die aanbevelings van die Nicholson-verslag opgetree. Hoe is dit enigsins in belang van die spel?” het SACA gevra.

Die spelers het die sport se grootste borge – SAB, Momentum, Betway en KFC – vir hul ondersteuning bedank.

“Ons vra om verskoning vir die optrede van ons administrateurs wat jul verbintenis en toewyding tot die sport ondermyn en verraai het. Ons is bewus dat baie van julle die afgelope twaalf maande direk met SACA in gesprek getree het om die spelers te ondersteun en daaroor is ons dankbaar.

“Laastens vra ons die publiek om voort te gaan om krieket te ondersteun. Dit is ’n wonderlike spel en ons is ongelooflik trots om julle op die veld te verteenwoordig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jan ·

Dit is waar dat KSA in die gemors is, maar ek kan nie sien hoe sake kan verbeter as die minister van sport de facto beheer oorneem nie. Die ANC foeter letterlik alles op waaraan hulle raak.

david ·

Julle vra dat ons. die toeskouers julle moet ondersteun ?

Dit terwyl julle sport aan jare onder regeringsinmenging geteiken word deur bv die gedwonge en vernederende kwota stelsel.

Nee wat, ek hoop die IKR pas ‘n slag sy eie grondwet toe en skors Krieket SA oor die inmenging van die regering.

Staan ‘n slag op en vertel vir Mthethwa en KSA dat die toeskouers kom kyk hoe julle speel, nie hoe hulle “administreer” nie.
Huidiglik, is die Proteas net ‘n politieke uitnodigspan, niks meer nie.

Anoniem ·

Die IKR verbied politieke inmenging baie duidelik in hulle beleid, dus behoort hulle SA summier uit internasionale krieket te skors vanweë die kwota beleid.

Gerhardus ·

Wie ondersteun nog ons sport ? Daar is té veel politieke inmenging in die sport. En dan vaar ons spanne nog sleg teen ader internasionale spanne en verspeel baie kanse.

Dup ·

SA Krieket is reeds gekaap en die “kapers” sal dit totaal vernietig.Daarom verlaat ons top sportlui reeds die land en gaan speel waar sport nie deur politieke inmenging verwoes word nie.

Vrijburger ·

“Voort gaan om krieket te ondersteun”?
Ek sal voortgaan om SA krieket te boikot so lank as wat daar rasse kwotas in die sport is.

Jakes ·

Ek wens die IKR skors SA uit krieket uit. Al die span sportkodes in SA word deur die regering beheer en is verpligte kwotas juis dit wat SA soos narre op die sportveld laat lyk. Maar net soos die res van die land feitlik in alle bestuursposte in n gemors en chaos verkeer, net so het sport ook verval tot sy huidige patetiese vlak.

Rian ·

Ek kyk en ondersteun al baie jare geen Suid Afrikaanse span sport nie. Ondersteun wel onafhanklike professionele sportmanne en vroue wat vir hul eie rekening en op eie koste aan sport in die buiteland deelneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.