Boulers blom, kolwers verwelk

Temba Bavuma op pad terug na die kleedkamer. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Daar mag dalk in Shukri Conrad ʼn nuwe regisseur in die stoel wees terwyl Temba die nuwe hoofkarakter is, maar daar is nog nie veel aan die Protea-storielyn gekarring nie.

Oudergewoonte het die boulers gister op SuperSportpark geskitter, waarna die kolwers nie die mas kon opkom nie.

Suid-Afrika geniet weliswaar ʼn goeie voorsprong van 179 lopies in die eerste toets teen die Windies, maar hulle het weer eens ʼn spul paaltjies op ʼn streep in hul tweede kolfbeurt verloor.

Dean Elgar, Tony de Zorzi, Keegan Petersen en Temba Bavuma is reeds terug in die kleedkamer en die tuisspan het skaars 49 lopies op die telbord.

Veral Bavuma het ʼn nagmerrie-ervaring: In sy eerste toets as kaptein is hy twee keer vir ʼn nulletjie uitgehaal. In die eerste kolfbeurt is hy met die tweede aflewering wat hy trotseer het been voor paaltjie betrap, terwyl hy gister vir net een aflewering staande kon bly.

Toegegee, die Windies-boulers was op hul stukke, maar benewens Aiden Markram het nie een van die ander Protea-wilgerlatswaaiers ʼn mens veel hoop vir die toekoms gegee nie.

Altans, nog nie.

Vroeër het Anrich Nortjé vyf paaltjies laat spat om te sorg dat die Windies vir 212 lopies in hul eerste beurt uitgeknikker is.

Die 29-jarige blits het na afloop van die dag se spel gesê dat die nuutste kolfineenstorting “nie ideaal” is nie.

“Hopelik kan ons een of twee goeie kolfvennootskappe aanmekaarslaan; ’n teiken van 250 lopies sal baie mededingend wees,” het Nortjé gesê.

Van die 24 paaltjies wat reeds in die toets gespat het, het 18 in die kort tydperk tussen teetyd en uitskeityd geval.

“Op SuperSportpark neem spanne gewoonlik paaltjies laat in die dag. Ek het glad nie ʼn verduideliking daarvoor nie, maar die bal doen dan beslis die praatwerk.”

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 342/10 in 86,3 boulbeurte: Aiden Markram 115, Dean Elgar 71 en Alzarri Joseph 5/81.

Wes-Indiese Eilande 212/10 in 69 boulbeurte: Raymon Reifer 62, Jermaine Blackwood 37 en Anrich Nortjé 5/36.

Suid-Afrika 49/4 in 8,1 boulbeurte: Aiden Markram 35* en Alzarri Joseph 2/17.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

George ·

Ja ja, gee Bavuma dieselfde kans as wat julle Elgar gegee het, 17toetse, en avg van 15.67 – hy het nog 16 na die om te gaan.

Witbaard ·

As dit van ons afgehang het, sou Elgar nie 17 kanse gekry het nie

Andrew ·

Jong, n mens word wakker van n nagmerrie. Nog nvraag, en ek weet elke afrigter het sy ou, sal de Zorzi en petersen ooit wereld klas word, as hulle op 25 en 29 nog nie n 40 gemiddled in A klas krieket het nie?

Top orde se eerste klas en toets gemid. in hakkies
Elgar – 41.38 (37.51)
Markram – 42.92 (34.05)
Zorzi – 37.85 (geen)
Bavuma – 37.23 (34.53)
Petersen – 39.77 (31.94)
Klaasen – 47.24 ( 12 na 2 toetse)
V Dussen is nie veel beter op 41.08 (30.16)

Met so n top orde gaan hulle nie die top 4 of 5 spanne in die wereld gereeld wen nie. Sou die insluiting van natuurlike jong tallente teen die swak Wes Indiers nie dalk n beter idee wees as om franchise buddies te kies nie?
Rickelton, Brevis , Bedingham ?

Hennie Biebouw ·

Tony de Zorzi is uit sy diepte uit. y het ‘n eersteklas gemiddeld van 37, en dit in Suid-Afrika se swak plaaslike reeks. Vader weet waarom hy die span gemaak het. Bavuma, wel, ons weet mos nou al, het dit ook nie om op toetsvlak dominerend te wees nie. Keegan Petersen het in Australië gewys dat hy kan kolf, ek is net nie seker of hy tans net effe van sy vorm verloor het, en of die Windies reeds sy swakpunt ( soos die geval met Elgar) uitgewerk het nie. Dit was ‘n riem onder die hart om Markram weer in die lopies te sien….Hoe dit ookal sy, op die oomblik het SA ‘n 239 lopie voorsprong, met een paaltjie staande. En dit op dag drie…Moenie verbaas wees as die Windies die piepklein teiken suksesvol jaag nie

Fran ·

Niks om te sê nie. Bavumatjie maak dit nie saam met groot manne nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.