Broekskeur, maar Proteas hak knoop deur!

Keshav Maharaj het die wenlopies teen Pakistan geslaan. (Foto: Twitter/KSA)

Dit was broekskeur, maar die Proteas het ʼn Wêreldbeker-wedstryd gewen waar hulle tweede moes kolf!

Die Suid-Afrikaners het Pakistan met een paaltjie in Chennai geklop nadat hulle die teiken van 271 lopies in die 48ste boulbeurt verbygesteek het.

Danksy die oorwinning – én hul goeie netto lopietempo – beklee die Proteas tans die eerste plek op die amptelike Wêreldbeker-punteleer.

Maar goeiste, daar was vanaand ʼn paar benoude oomblikke; veral toe Aiden Markram sy paaltjie in die 41ste boulbeurt verloor het.

Markram het 91 goeie lopies aangeteken en hy was as’t ware die gom wat die Protea-beurt in een stuk gehou het.

Usama Mir het egter die spreekwoordelike kat in die Protea-duiwehok losgelaat toe hy die 29-jarige kolwer met die wenstreep in sig uitgehaal het.

Daarna was dit ʼn gekarrel om lopies aan te teken, maar Keshav Maharaj het staande in die drukkokersituasie gebly om die wenlopies met ʼn grenshou van Mohammad Nawaz se boulwerk te slaan.

In die verlede sou die Proteas só ʼn wedstryd verloor het. Dálk (mag ʼn mens dit al fluister?) is 2023 die Suid-Afrika se Wêreldbeker-suksesjaar.

Daar moet egter nog eers baie water in die see loop.

  • Opsomming van die telkaart:

Pakistan 270/10 in 46,4 boulbeurte: Saud Shakeel 52, Tabraiz Shamsi 4/60 en Marco Jansen 3/43.

Suid-Afrika 271/9 in 47,2 boulbeurte: Aiden Markram 91, David Miller 29 en Shaheen Shah Afridi 3/45.

  • Punteleer:
  1. Suid-Afrika: 10 punte ná ses wedstryde
  2. Indië: 10 punte ná vyf wedstryde
  3. Nieu-Seeland: 8 punte ná vyf wedstryde
  4. Australië: 6 punte ná vyf wedstryde
  5. Sri Lanka: 4 punte ná vyf wedstryde
  6. Pakistan: 4 punte ná ses wedstryde
  7. Afghanistan: 4 punte ná vyf wedstryde
  8. Bangladesj: 2 punte ná vyf wedstryde
  9. Engeland: 2 punte ná vyf wedstryde
  10. Nederland: 2 punte ná vyf wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.