Conway skitter weer vir Swartpette

Devon Conway in aksie teen Bangladesj. Foto: Sanka Vidanagama/AFP.

Die Suid-Afrikaans gebore Devon Conway het weer eens ’n sleutelrol in ’n Nieu-Seelandse krieketoorwinning gespeel.

Die 29-jarige voormalige Gautenger het pas 72 lopies in die Swartpette se sege van vyf paaltjies teen Bangladesj in Christchurch geslaan.

Die tuisspan moes 272 lopies in hul toegelate 50 boulbeurte aanteken en te danke aan Conway en Tom Latham (110) se beurte het hulle die wenlopies binne 49 lopies gemoker om die tweede eendagwedstryd van die reeks op ’n drafstap te wen.

Nodeloos om te sê is die Nieu-Seelanders gaande oor hul Suid-Afrikaanse invoerproduk en oudspeler Mark Richardson het al opgewonde vanuit die kommentatorshokkie gegil dat Conway oor emmersvol klas beskik.

In die vorige T20-reeks teen Australië het die hotkloukolwer 192 lopies teen ’n gemiddeld van 48,00 geslaan, maar dit is veral sy treftempo wat kenners laat regop sit: 140,14 teen ’n sterk boulaanval is glad nie te versmaai nie.

“Sedert hy sy verskyning in Nieu-Seeland so ’n paar seisoene gelede gemaak het, tel hy gereeld onder die voorste lopiemakers in die reekse waarin hy speel. Dit is indrukwekkend om te sien – ’n kolwer wat met sy vertonings die deur van nasionale erkenning oopforseer,” het Luke Ronchi, die Kiwi’s se kolfafrigter gesê.

  • Conway se statistieke in internasionale witbalkrieketwedstryde:

Eendagkrieket: 99 lopies teen ’n gemiddeld van 49,50 na twee wedstryde.

T20-krieket: 366 lopies teen ’n gemiddeld van 52,28 na 11 wedstryde.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Suid Afrika se verlies is NZ se wins.Kans is min dat hy agv die ANC se sportbeleid die span sou gehaal het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.