Devon is ‘mal’ oor kolfwerk

Devon Conway. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Die voormalige Engeland-krieketkaptein, Michael Atherton, het eens gesê dat Andrew Flintoff oor die besondere vermoë beskik om krieket vir enigiemand interessant te maak.

En as daar iemand is wat krieketliefhebbers – net soos Flintoff destyds – ’n bietjie meer regop in hul stoele laat sit, dan is dit die Suid-Afrikaans gebore Devon Conway.

Die 29-jarige Conway het vroeër die week sy toetsbuiging vir Nieu-Seeland teen Engeland gemaak en terstond ’n dubbelhonderdtal geslaan.

Hy is slegs die sewende speler in die geskiedenis om 200 of meer lopies in sy eerste toetsbeurt te moker.

Daar is al baie gesê en geskryf oor Conway se pad na internasionale glorie; hoe hy in Suid-Afrika gesukkel het om gereelde speelkans te kry en hoe hy as ’n amateurkrieketboelie uitgekryt is.

Sy loopbaan het egter in Nieu-Seeland die hoogte ingeskiet en hy het die plaaslike boulaanvalle oorheers, terwyl oudspelers met sy vasberadenheid beïndruk was. Daar was lanklaas ’n speler wat die deur na die nasionale span so hard oopgeskop het, het hulle gesê.

Nadat hy ’n onoorwonne beurt van 99 teen Australië in ’n T20-wedstryd geslaan het, gaan hy beslis nie eendag na sy eerste toetsbeurt terugkyk, sy kop skud en wens dat hy sy kanse beter benut het nie.

Hy het uiteindelik 23 grenshoue in sy beurt geslaan, terwyl hy sy 200-tal met ’n ses bereik het. Dink wat jy wil van Devon Conway; hy weet hoe om ’n welverdiende geleentheid met albei hande vas te gryp.

Die Nieu-Seelandse snelbouler Tim Southee het ná die pragbeurt Conway se lof besing en gesê dat die oudleerder van St John’s College in Johannesburg “mal” is oor kolfwerk.

“Hy het reeds ’n hoogste T20-telling van 99 nie uit nie, ’n honderdtal in internasionale eendagkrieket en nou ook ’n dubbelhonderdtal in sy eerste toets. Ons weet nou al vir ’n hele rukkie dat hy ’n baie spesiale speler is,” het Southee gesê.

Volgens die 32-jarige bouler is Conway bereid om hard aan sy spel te werk, asook na ander kolwers se raad te luister.

“Hy het die ongekende vermoë om die bal na vreemde plekke op die veld te slaan, terwyl sy tegniek ook goed genoeg is om die meer ‘gewone’ houe met groot gemak te speel.”

  • Suid-Afrika se Jacques Rudolph het 222* in sy eerste toets teen Bangladesj geslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Moedeloos ·

Ja so gaan soek alle SA sportmense oorsee hul heil omdat hul vermoeë nie in SA raakgesien word nie. Welgedaan jong man. WORK HARD PLAY HARD. Jy pluk nou die vrugte van jare se harde werk.

capie ·

As “gelyke geleenthede ” reg gebruik word in krieket sal ons met die Suid Afrikaans gebore spelers ‘n span kan saamstel wat geskiedenisboeke sal herskryf, maar die beste opsie vir enige talentvolle speler is maar oorsee. Hier sal hy net toeskouer speel en wens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.