Die Bavuma/Conrad-era is hier

Die wedstryd teen die Wes-Indiese Eilande op SuperSportpark sal Temba Bavuma se eerste kragmeting aan die stuur van die nasionale toetskrieketspan wees. Foto: Twitter via Krieket-Suid-Afrika.

Die era van Shukri Conrad en Temba Bavuma begin môre in alle erns wanneer die Proteas in die eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande op SuperSportpark te staan kom.

Die 56-jarige Conrad is vroeër as die Suid-Afrikaners se nuwe toetsafrigter aangewys en hy het nie geskroom om Bavuma in Dean Elgar se plek as kaptein aan te stel nie.

“Dit was my besluit. Ek voel dat ek en Temba mekaar goed verstaan, terwyl Dean steeds ʼn reuse-leierskaprol sal vertolk. Ek wil dit net benadruk dat Dean hom uitstekend van sy taak gekwyt het en nie skielik ʼn swak kaptein is nie,” het Conrad vroeër gesê.

Bavuma het intussen ook by ʼn onlangse mediakonferensie gesê dat daar geen vyandigheid tussen hom en Elgar is nie.

“Ek en Dean is goeie spanmaats en ek het nog altyd na hom opgekyk as ʼn senior speler. Hy het my gehelp om my voete in die span te vind en ek kan nie sien dat dinge nou gaan verander nie. Ek het reeds met hom gesels en verhoudinggewys is daar niks om ons oor te bekommer nie,” het Bavuma gesê.

Op die speelveld behoort die Proteas egter te veel skietgoed vir die Windies te hê.

Daar is ʼn moontlikheid dat die Suid-Afrikaners ʼn sterk snelbattery gaan kies met Kagiso Rabada, Marco Jansen, Anrich Nortjé en die opwindende Gerald Coetzee wat dan op SuperSportpark losgelaat kan word.

Krieketliefhebbers kan gerus naderstaan as Coetzee wel ʼn kans kry. Hy druk gereeld die spoednaald in die rooi, terwyl hy een van die topboulers in die onlangse SA20-reeks was.

Aiden Markram. Foto: Twitter.

Op die kolfwerkfront sal die Suid-Afrikaners beslis beter moet speel. Hulle het gesukkel om meer as 200 lopies in die reekse teen Australië en Engeland aan te teken en honderdtalle is deesdae skaarser as hoendertande.

Conrad het egter reeds bevestig dat Aiden Markram die kolfwerk saam met Elgar sal open, terwyl Heinrich Klaasen ook kans sal kry om sy stempel as paaltjiewagter af te druk.

Markram het uitstekend in die SA20-toernooi gespeel en hy is ook as die kaptein van die Sunrisers Hyderabad in die komende Indiese Premierliga aangewys. Hy sal egter nou sy goeie spelpeil op die toetsverhoog moet voortsit; iets waarmee hy vantevore gesukkel het.

Die wedstryd begin Dinsdag om 10:00.

  • Spelergroepe:

Suid-Afrika: Temba Bavuma (kaptein), Tony de Zorzi, Gerald Coetzee, Dean Elgar, Simon Harmer, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, Aiden Markram, Wiaan Mulder, Senuran Muthusamy, Anrich Nortjé, Keegan Petersen, Kagiso Rabada en Ryan Rickelton.

Wes-Indiese Eilande: Kraigg Brathwaite (kaptein), Jermaine Blackwood, Akeem Jordan, Alick Athanaze, Tagenarine Chanderpaul, Roston Chase, Joshua da Silva, Shannon Gabriel, Jason Holder, Alzarri Joseph, Kyle Mayers, Gudakesh Motie, Raymon Reifer, Kemar Roach en Devon Thomas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

George ·

Hoekom, wat maak hom nie n toets speler nie? Hy het die hoogste avg en top protea batsman van die afgelope 3seisoene, so wys my waar is hy nie reg nie?

George ·

Moes ons Dean aanhou met sy avg van 12.19 as kaptein, of sy 17 innings sonder n 50? of markram met sy avg van 16 vir 2022, sonder n 50 in 15 beurte??

Manie ·

Speel Rassie van der Dussen dan nie meer meerdag krieket nie?

Fran ·

MM sluit asb tog net kommentaar op hierdie berig dat julle tog rus kan kry!!!!! Pateties!

George ·

Kan nie veel swakker vaar as ou Dean nie. Nou hoef ons darm nie meer na Dean se 20 000 verskonings te luister nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.