Elgar wil op hoë noot – met reeksoorwinning – uittree

Suid-Afrika se Dean Elgar (regs) skud blad met Indië se Virat Kohli in die eerste toets op SuperSport Park in Centurion. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Dean Elgar sal hoop om die gordyn oor sy kriekettoetsloopbaan te laat sak deur Suid-Afrika tot ʼn oorwinning aan te voer in die tweede en laaste toets teen ʼn Indiese span wat waarskynlik minstens twee veranderinge gaan aanbring.

Die besoekers se hoop op ʼn eerste reeksoorwinning ooit in Suid-Afrika is verydel toe hulle verlede Donderdag die eerste toets met ʼn beurt en 32 lopies verloor het.

Suid-Afrika sal slaggereed wees om ʼn seëvierende vaarwel vir Elgar te verseker.

Indië lyk egter of hy sy boulaanval gaan verskerp.

Ravindra Jadeja sal na verwagting terugkeer in die plek van Ravichandran Ashwin, wat voor die aanvang van die eerste toets ʼn rugspasma ondervind het.

Jadeja sal diepte gee aan Indië se kolforde wat in Centurion ineengestort het. Hy is boonop ʼn heel bedrewe bouler.

Indië sal waarskynlik ook minstens een verandering aan die boulers maak.

Jasprit Bumrah en Mohammed Siraj het redelike beheer in Centurion gehandhaaf, maar het steun gekort van Shardul Thakur en nuweling Prasidh Krishna.

Óf Mukesh Kumar óf Avesh Khan gaan na verwagting op Nuweland speel. Avesh is by die span ingesluit na ʼn indrukwekkende vertoning in Indië se eendagreeksoorwinning wat die toetswedstryde voorafgegaan het en hy het dit opgevolg deur verlede week vyf paaltjies vir Indië A teen Suid-Afrika A te vat.

Met die uitsondering van Virat Kohli en KL Rahul, het dit nie gelyk of Indië se kolwers opgewasse teen die Suid-Afrikaners was nie.

Kaptein Rohit Sharma het weereens onder die plaaslike toestande gesteier en is twee keer deur Kagiso Rabada – vir vyf en nul – kleedkamer toe gestuur.

In vyf toetse in Suid-Afrika het Sharma nog net 128 lopies teen ʼn gemiddel van 12,8 aangeteken; dít in vergelyking met ʼn toetsgemiddeld van 45,45.

Die jong kolwer Yashasvi Jaiswal, Shubman Gill en Shreyas Iyer het almal kwesbaar teen die snelboulers gelyk.

Toestande op Nuweland gaan onwaarskynlik gunstig vir snelboulers wees – soos die geval in Centurion was – maar die boulers kan tog ʼn bietjie hulp te wagte wees. Die kolfblad was Maandag met groen gras bedek, hoewel die oppervlak voor die wedstryd gesny sal word.

Benewens die afwesigheid van Bavuma, sal die gashere ook sonder die dienste van snelbouler Gerald Coetzee moet klaarkom. Coetzee het ʼn pelvisbesering in die vorige toets opgedoen.

Suid-Afrika sal ook ruimte wil skep vir draaibouler Keshav Maharaj en sal moet besluit of hulle ʼn spesialiskolwer in die plek van Bavuma gaan kies.

Zubayr Hamza of Tristan Stubbs kan dalk as kolwers inkom, of daar kan dalk besluit word op vyf boulers, met Marco Jansen wat op nommer sewe kolf.

Lungi Ngidi, wat tot onlangs nog met ʼn enkelbesering gesukkel het, sal na verwagting weer fiks genoeg vir insluiting wees.

  • Spanne:

Suid-Afrika: Dean Elgar (k) Aiden Markram, Tony de Zorzi, Keegan Petersen, David Bedingham, Tristan Stubbs, Zubayr Hamza, Kyle Verreynne (paaltjiewagter), Marco Jansen, Wiaan Mulder, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada, Lungi Ngidi en Nandre Burger.

Indië: Rohit Sharma (k), Yashasvi Jaiswal, Shubman Gill, Virat Kohli, Shreyas Iyer, KL Rahul (paaltjiewagter), Ravindra Jadeja, Ravichandran Ashwin, Shardul Thakur, Mohammed Siraj, Mukesh Kumar, Prasidh Krishna, Avesh Khan, KS Bharat (paaltjiewagter) en Abhimanyu Easwaran.

  • Die toets begin Woensdag om 10:30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.