Engeland se treurmare in Australië

Engeland moes in hul afgelope twee toere na Australië omtrent bontstaan. Foto: Glyn Kirk/AFP.

Jimmy Anderson sal die eerste toets van die Reeks om die As teen Australië in Brisbane misloop. Maar op 39-jarige ouderdom is dit seker te verstane dat die veteraansnelbouler ’n toets of twee langs die grens sal deurbring.

“Jimmy is fiks en hy het geen besering nie. Dit is ’n besige toer wat voorlê – vyf toetse in ses weke – en die plan is om hom in die tweede toets op die Adelaide Oval deel van die aksie te maak,” het Engeland in ’n verklaring gesê.

Anderson se statistiek in Brisbane sorg buitendien nie vir baie indrukwekkende leesstof nie.

In vier toetse het hy nog net sewe paaltjies teen ’n gemiddeld van meer as 75 geneem. In Adelaide vaar hy darem beter soos wat sy 16 paaltjies teen 29,50 getuig.

Tog is hy vol vertroue dat Engeland hulself in Australië goed van hul taak sal kwyt.

“Dinge het verander. Dit is nie meer soos ’n paar jaar terug toe hulle wêreldkrieket oorheers het en ’n mens skrikkerig was om na Australië te toer nie,” het Anderson verlede week gesê.

Ja, daar het sedert Engeland se laaste besoek baie dinge agter die skerms in Australiese krieket gebeur; maar as ’n mens na hul onlangse rekord in Australië kyk, moet Joe Root se span dalk nie té groot slukke uit hul selfvertrouebeker neem nie.

Die Engelse kon nie een van hul afgelope tien toetse in Australië wen nie en hulle het hul laaste wedstryd in Sydney met ’n beurt en 123 lopies verloor.

Tog meen Anderson dat die besoekers steeds die tuisspan op die agtervoet sal kan plaas.

Die eerste toets begin môre in Brisbane.

Uitslae van Engeland se vorige twee toere na Australië:

  • 2013‑’14:

Brisbane: Verloor met 381 lopies

Adelaide: Verloor met 218 lopies

Perth: Verloor met 150 lopies

Melbourne: Verloor met agt paaltjies

Sydney: Verloor met 281 lopies

  • 2017‑’18:

Brisbane: Verloor met tien paaltjies

Adelaide: Verloor met 120 lopies

Perth: Verloor met ’n beurt en 41 lopies

Melbourne: Wedstryd eindig onbeslis

Sydney: Verloor met ’n beurt en 123 lopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Dit beloof om ‘n baie interessante “Ashes”-reeks te wees.
Maroela se puik sportjoernaliste verdien komplimente vir die wyse waarop die minder aangename gebeure agter die skerms nie vermeld word bloot om sensasie te wek nie.
Goed so.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.