Engeland was ‘desperaat’ om te wen

Ben Stokes het 108 lopies teen Nederland aangeteken. (Foto: X/ECB)

Amper ʼn maand nadat Engeland sy eerste krieketwedstryd by die Wêreldbeker-toernooi in Indië gewen het, kon die span darem Woensdag met Nederland afreken.

Ben Stokes se beurt van 108 lopies het ʼn deurslaggewende rol in die uiteindelike oorwinning van 160 lopies gespeel – veral as ʼn mens in ag neem dat die Engelsmanne se beurt ʼn groot spoedwal op 192/6 getref het.

Maar ʼn puik vennootskap saam met Chris Woakes (51 lopies) het beteken dat Engeland meer as 100 lopies in die laaste tien boulbeurte van hul beurt kon aanteken, waarna hul draaiers te slim vir die Nederlandse kolwers was.

Die verdedigende kampioenspan beklee tans die sewende plek op die amptelike punteleer met twee seges in sy agt wedstryde.

“Ons was desperaat om ʼn wedstryd te wen. Dawid Malan het vir ʼn goeie aanloop tot ons beurt gesorg, maar toe raak ons die spoor effens byster. Die vennootskap tussen Stokes en Woakes het egter ʼn reuseverskil gemaak,” het Jos Buttler gesê.

Volgens die Engeland-kaptein speel die veglustige Stokes sy beste krieket wanneer sy span onder druk is.

“Ben weet hoe om leiding te neem en ek is baie dankbaar om hom in die span te hê.”

  • Opsomming van die telkaart:

Engeland 339/9 in 50 boulbeurte: Ben Stokes 108, Dawid Malan 87 en Bas de Leede 3/74.

Nederland 179/10 in 37,2 boulbeurte: Teja Nidamanuru 41*, Moeen Ali 3/42 en Adil Rashid 3/54.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.