Engelsmanne lyk na ramkatte in Ranchi

Indië se Mohammed Siraj wens vir Joe Root geluk met sy spogbeurt. (Foto: Tauseef Mustafa/AFP)

Sê wat jy wil van Ben Stokes, maar die Engeland-kaptein het ʼn onwrikbare geloof in sy span se vermoëns op die krieketveld.

Nadat Engeland die derde toets teen Indië met ʼn reusagtige 434 lopies in Rajkot verloor het, swaai die besoekers nou die septer in Ranchi.

Stokes het immers gesê dat sy spelers goed genoeg is om nog met die reekslouere weg te stap.

“Almal het maar hul sienswyse oor dinge. Tog is die enigste opinie wat werklik saak maak dié van die spelers in die kleedkamer. Ja, dinge werk nie altyd uit soos wat jy dit wil hê nie, maar daar is nog twee wedstryde oor in die reeks. Ons kan nog met die silwerware huis toe keer as die telling 3-2 in ons guns is,” het die Engeland-kaptein gesê.

Joe Root – die man wat volgens die Britse pers die swakste hou in toetskrieketgeskiedenis in Rajkot gespeel het – het nou Engeland se kolfpoging met ʼn onoorwonne beurt van 122 lopies gelei.

Hy het vir 362 minute gekolf, 274 balle trotseer en 10 grenshoue gemoker om toe te sien dat die besoekers meer as 300 lopies in hul eerste beurt kon aanteken.

Hy is goed deur Ollie Robinson, wat op no. 9 gaan kolf het, ondersteun.

Robinson, wat meer bekend is vir sy snelboulwerk as vir sy kolfvernuf, het 58 waardevolle lopies aangeteken om saam met Root ʼn vennootskap van 102 lopies om die agtste paaltjie te geniet.

Daarna kon die Indiese kolfmasjien maar net nie aan die gang kom nie.

Yashasvi Jaiswal het weer eens met sy aanvallende spel uitgeblink, maar hy het sy paaltjie op die verkeerde tyd verloor en teen uitskeityd het die tuisspan met sy telling op 219/7 gewankel; nog 134 lopies weg van Engeland se eerstebeurttelling.

  • Opsomming van die telkaart:

Engeland 353/10 in 104,5 boulbeurte: Joe Root 122*, Ollie Robinson 58 en Ravindra Jadeja 4/67.

Indië 219/7 in 73 boulbeurte: Yashasvi Jaiswal 73, Shoaib Bashir 4/84 en Tom Hartley 2/47.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.