Faf-hulle loop rieme styf

Faf de Klerk. (Argieffoto: GB Jordaan)

Dit was maar ʼn bewolkte en koue dag sonder veel sonskyn vir Suid-Afrika se groot groep rugbyspelers wat in Europa hul brood en botter verdien.

Die Sale Sharks se nederlaag van 21 – 45 teen La Rochelle van Frankryk in die kwarteindronde van die Europese Kampioenebekerreeks was nie goeie nuus vir die Springbokafrigter, Jacques Nienaber, nie.

Daar is sprake dat hy ʼn hele paar oorsese Bokke teen die Britse en Ierse Leeus wil betrek, maar dit was maar erge sooibrand.

Daar was vyf Springbokke (Rohan Janse van Rensburg, Faf de Klerk, Akker van der Merwe en twee van die Du Preez-broers) asook Cobus Wiese in Sale se opdrafspan, met Coenie Oosthuizen en Robert du Preez wat in die tweede helfte opgestuur is.

Hulle kon egter nie hond haaraf maak teen La Rochelle nie en dit was eerder die vergete Springbokke Raymond Rhule (twee drieë) en Dillyn Leyds wat aan Rochelle die nodige plofkrag gegee het.

In die ander kwarteindstryd het Leinster ʼn agterstand van 0 – 14 teen die Exeter Chiefs uitgewis om met 34 – 22 te seëvier.

Leinster was klinies en het die Exeter Chiefs, een van Engeland se top-spanne, ore aangesit.

* In die Europese Uitdaagbekerreeks was daar oorwinnings in die kwarteindronde vir die Leicester Tigers met 39 – 15 oor die Newcastle Falcons, Ulster het die Northampton Saints met 35 – 27 geklop, Bath het London Irish met 26 – 13 verslaan en Montpellier het ook deurgedring met ʼn oorwinning van 31 – 25 oor Benetton.

Suid-Afrikaners wat die oog gevang het, was Luan de Bruin, Hanru Liebenberg en Jasper Wiese vir Leicester, Jacques du Toit en Juan Schoeman vir Bath, en die strydros Bismarck du Plessis, wat die vonk by Montpellier aan die brand gesteek het.

* In Sondag se kwarteindstryde van die Kampioenebekerreeks speel Toulouse teen Clermont en Bordeaux Begles teen Racing 92.

Daar is ʼn paar Suid-Afrikaners soos Cheslin Kolbe (Toulouse) in aksie wat dit die moeite werd maak om oor die oplewing in Franse rugby te herkou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.