Faf vuur en vlam met wilgerlat, maar RCB verloor

Faf du Plessis in aksie vir die Royal Challengers Bengaluru in die openingswedstryd van die Indiese Premierliga. (Foto: R. Satish Babu/AFP)

Faf du Plessis en sy Royal Challengers Bengaluru (RCB)-spanmaats het hul eerste wedstryd van die jongste Indiese Premierliga-seisoen verloor toe hulle met ses paaltjies die onderspit teen die Chennai Super Kings gedelf het.

Die 39-jarige voormalige Protea-kaptein het goed voor die paaltjies gelyk en hy het agt grenshoue in sy beurt van 35 lopies gemoker voordat hy die eerste van Mustafizur Rahman se vier slagoffers geword het.

Volgens Du Plessis is ʼn goeie kolfwerkaanloop tot die wedstryd ʼn moet as jy die Super Kings op hul tuisveld wil tem.

“Jy moet ʼn stewige vertoning in die eerste ses boulbeurte lewer want Chennai se draaiers maak daarna dinge baie moeilik vir die kolwers. Ons het so 20 lopies te min op die telbord gehad en ons het die kolfblad veel erger laat lyk as wat dit werklik was,” het RCB se kaptein gesê.

Die Suid-Afrikaner het al sy grenshoue binne die eerste vyf boulbeurte van sy span se kolfpoging geslaan, maar daarna moes hy magteloos toekyk hoe Glenn Maxwell en Rajat Patidar vir nulletjies uitgehaal is.

  • Opsomming van die telkaart:

Royal Challengers Bengaluru 173/6 in 20 boulbeurte: Anuj Rawat 48, Dinesh Karthik 38* en Mustafizur Rahman 4/29

Chennai Super Kings 176/4 in 18,4 boulbeurte: Rachin Ravindra 37, Shivam Dube 34* en Cameron Green 2/27.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.