Flitsende kolwe gaan Kwena nie van stryk bring

Kwena Maphaka. (Foto: X)

Hy is linkshandig, talentvol, blitsig en hy het die kolwers by die afgelope o.19-Wêreldbekertoernooi laat bontstaan.

Boonop is hy net 17 jaar oud.

Ja-nee, ʼn mens hoef nie ʼn krieketsiener te wees om te voorspel dat Kwena Maphaka nog baie wedstryde vir sy span kan wen nie.

Die jong Suid-Afrikaner is boonop deur die Mumbai Indians nadergetrek om mik-en-mokerkrieket op die groot verhoog te speel.

Maar in sy eerste Indiese Premierliga (IPL)-wedstryd vir die Indians teen die Sunrisers Hyderabad het dinge nie heeltemal volgens plan verloop nie.

Maphaka het die boulwerk vir sy elftal geopen, maar die flitsende kolwe van Travis Head, Heinrich Klaasen het beteken dat hy 66 lopies in sy vier boulbeurte afgestaan het.

Veral Head het sy boulwerk geniet en hy het van agtereenvolgende aflewerings vier grenshoue gemoker.

ʼn Vuurdoop soos min, soos wat Dale Steyn op X laat weet het.

Maar die legendariese Protea-blits het later weer op sosiale media geskryf dat die toekoms nie minder blink vir die jong hotkloubouler is nie.

“Ek weet hoe Kwena Maphaka moet voel, maar hy word deur ongelooflike mense by Mumbai omring en alles gaan oukei wees,” het Steyn gesê.

“Dit is sy eerste proesel van IPL-krieket en dit is ongetwyfeld een van die topoomblikke van sy loopbaan; ongeag van die uitslag of sy vertoning. Boonop is hy net 17 jaar oud en dinge kan vorentoe net beter word. Welgedaan, jong man.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.