Gibbs krap kop oor kontraklose Bedingham

David Bedingham het reeds twee vyftigtalle en ’n honderdtal in sy jong toetsloopbaan aangeteken. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Herschelle Gibbs het Krieket Suid-Afrika (KSA) se besluit bevraagteken om nie ʼn nasionale kontrak aan David Bedingham toe te ken nie.

Dit lyk of die 29-jarige Bedingham uitgeknip is vir toetskrieket en hy het reeds 347 lopies in sy vier toetse teen ʼn gemiddeld van 49,57 geslaan.

Die George-boorling het vroeër aangedui dat hy nie beskikbaar vir die SA20-toernooi is nie omdat hy graag toetskrieket vir Suid-Afrika wil speel.

Nodeloos om te sê was hy ʼn afgewaterde Protea-groep se topkolwer in die onlangse reeks teen Nieu-Seeland en hy het ʼn puik honderdtal in die tweede toets in Hamilton geslaan.

“Geen nasionale kontrak vir Bedingham nie; die Proteas se mees afgeronde kolwer,” het Gibbs op X, voorheen Twitter, gesê.

Die voormalige openingskolwer het later in sy inskrywing die besluit as “skandelik” bestempel.

Daar is baie wat sal saamstem dat Bedingham eintlik al veel meer speelkans op die internasionale rooibalkrieketverhoog moes gekry het. Hy is telkens onder die voorste lopiemakers in Engeland se County-kampioenskap en het in 2021 sy hoogste telling (257) vir Durham teen Derbyshire gemoker.

Nóg ’n oud-Protea, Ashwell Prince, het destyds gewaarsku dat KSA sy sokkies moet optrek voordat ʼn kolfdiamant deur sy vingers glip.

“Ons kan nie aanhou maak asof daar niks verkeerd is nie. Dit is hoog tyd dat KSA ’n bietjie ondersoek instel en nie doekies omdraai oor waarom spelers loop nie,” het Prince gesê.

Bedingham het egter sy planne laat staan om vir Engeland te kwalifiseer en hy het verlede jaar sy Protea-buiging teen Indië op SuperSportpark gemaak.

“Ek kan nie ophou glimlag nie. Ek is baie dankbaar vir die geleentheid en ek kan nie wag om te speel nie. Omstandighede is geneig om vinnig te verander en ek is baie bly om deel van die Protea-opset te wees,” het die kolwer vóór sy eerste toets gesê.

Hy het terstond 56 lopies teen die Indiese boulaanval in Centurion aangeteken en was een van die sterre in die Suid-Afrikaners se sege met ʼn beurt en 32 lopies.

Spelers met KSA-kontrakte vir 2024-’25: Temba Bavuma, Nandre Burger, Gerald Coetzee, Tony de Zorzi, Bjorn Fortuin, Reeza Hendricks, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Andile Phehlukwayo, Kagiso Rabada, Ryan Rickelton, Tabraiz Shamsi, Tristan Stubbs en Rassie van der Dussen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.