Graeme Pollock in hospitaal ná beroerte

Graeme Pollock. (Foto: Anna Zieminski/AFP)

Graeme Pollock, een van wêreldkrieket se beste kolwers nóg, is in die hospitaal opgeneem.

Die krieketlegende, wat onlangs sy 80ste verjaardag gevier het, is gehospitaliseer nadat hy 11 dae gelede ʼn beroerte gehad het.

“Hy is in die waaksaal, maar hy beweeg sy arms en bene en verstaan alles wat hy vir hom sê,” het oudspanmaat Spook Hanley aan Netwerk24 gesê nadat hy hom besoek het.

Pollock is deesdae ʼn inwoner van die Evergreen-aftreeoord in Johannesburg.

Hy word as een van die beste linkshandige kolwers in die spel se geskiedenis beskou. In ’n toetsloopbaan wat tot net 23 wedstryde weens Suid-Afrika se internasionale sportisolasie beperk is, het hy 2 256 lopies teen ’n gemiddeld van 60,97 aangeteken.

Sy hoogste telling van 274 – wat hy in 1970 teen Australië in Durban gemoker het – was jare lank die hoogste toetstelling deur ’n Suid-Afrikaanse kolwer, totdat Daryll Cullinan dit in 1999 teen Nieu-Seeland verbeter het

Maar een van Pollock se heel beste beurte was in die Kaapstad-toets teen Bob Simpson se Aussies in 1966.

Die besoekers het danksy Simpson (153) en Keith Stackpole (134) se pogings meer as 500 lopies in hul eerste beurt opgestapel. Daarteenoor was Suid-Afrika vroeg in die moeilikheid met sy telling op 85/5 – Eddie Barlow, Trevor Goddard en Ali Bacher was reeds terug in die kleedkamer.

Pollock het egter voortgekolf.

Sy beweging was beperk nadat hy sy dyspier verrek het. Hy het met sy voetwerk gesukkel en kon nie juis enige enkellopies waag nie, maar hy het die bal na hartelus na die grens gemoker.

Suid-Afrika is uiteindelik vir 353 lopies uitgehaal, waarvan Pollock op sy eie 209 lopies bygedra het.

Soos wat die Engelse joernalis Christopher Martin-Jenkins gesê het: “Graeme Pollock het nie ’n swak aflewering nodig om lopies aan te teken nie. ’n Kragtige dryfhou op die voorvoet of ’n briljante kaphou sorg dat die lopiekrane oopbly.”

Hy is in 2000 as Suid-Afrika se speler van die eeu aangewys en hy het uiteindelik 20 940 lopies in 262 eersterangse wedstryde geslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.