Hoe oud sal Proteas in 2027 wees?

Die Wêreldbeker-kriekettoernooi word in 2027 in Suid-Afrika aangebied. (Foto: Punit Paranjpe/AFP)

Die son het verlede Donderdag op Suid-Afrika se Wêreldbeker-veldtog gesak toe die Proteas met drie paaltjies teen Australië (die uiteindelike kampioenspan) in Kolkata verloor het.

Nou skuif die beplanningsaandag weer na die volgende eendagkrieket-skouspel in 2027; ʼn toernooi wat Suid-Afrika saam met Namibië en Zimbabwe aanbied.

Tyd staan egter vir niemand stil nie en oor vier jaar is ʼn hele paar van die huidige sterre al baie nader aan hul 40ste verjaardag.

Reeza Hendricks, David Miller en Rassie van der Dussen sal dan 38 jaar oud wees, terwyl Temba Bavuma in 2027 al 37 kersies op sy verjaardagkoek sal moet uitblaas.

Aiden Markram – dan 33 – kan die aangewese kandidaat wees om die Proteas se kapteinskapleisels vas te vat.

Gerald Coetzee en Aiden Markram. (Foto: Money Sharma)

Onder die boulers sal Lungi Ngidi en Kagiso Rabada onderskeidelik 31 en 32 jaar oud wees, terwyl ʼn 27-jarige Gerald Coetzee dan op die kruin van die snelboulergolf is.

Daar moet weliswaar nog baie water in die see loop voor die volgende eendagkrieket-uitkloptoernooi en ʼn mens kan nie met sekerheid die koers van die Suid-Afrikaanse krieketbootjie bepaal nie.

“Soos wat my lyf nou voel, weet ek nie mooi hoe om die vraag te beantwoord nie,” het Miller gesê toe hy oor sy 2027-Wêreldbekerdeelname gepols is.

“Ek sal dinge op ʼn jaarlikse grondslag moet evalueer en kyk hoe dinge uitdraai. Dit is nog ʼn entjie weg en dit is nou moeilik om ʼn presiese antwoord gereed te hê.”

  • Hoe oud word die Proteas in 2027?

Kolwers: Temba Bavuma (37), Reeza Hendricks (38), Heinrich Klaasen (36), Aiden Markram (33), David Miller (38) en Rassie van der Dussen (38).

Boulers: Gerald Coetzee (27), Keshav Maharaj (37), Lungi Ngidi (31), Kagiso Rabada (32), Tabraiz Shamsi (37), Anrich Nortjé (34), Sisanda Magala (36) en Lizaad Williams (34).

Veelsydige spelers: Marco Jansen (27) en Andile Phehlukwayo (31).

Opkomende sterre: Donovan Ferreira (29), Dewald Brevis (24) en Tristan Stubbs (27).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.