Holder glo Windies kan nog wen

Jason Holder het aggressief in die Windies se eerste beurt op die Wanderers gekolf. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Jason Holder het gesorg dat die Proteas se frustrasievlakke die hoogte inskiet toe hy so te sê man alleen toegesien het dat die Wes-Indiese Eilande 251 in hul eerste beurt op die Wanderers kon aanteken.

Hoewel die Proteas steeds ʼn goeie voorsprong van 69 lopies geniet het toe die laaste Windies-paaltjie geval het, sou hulle baie vroeër van Holder en kie ontslae wou raak.

Die voormalige Wes-Indiese kaptein het 81 vinnige lopies aangeteken en hy het goeie vennootskappe van 31 en 58 met Kemar Roach en Gudakesh Motie geniet.

“Die belangrikste is dat ons nog ʼn kans staan om die toets te wen. Ek was al vantevore in ʼn soortgelyke situasie [waar hy saam met die stertkantkolwers moes kolf]. Jy moet net vertroue in jou spanmaat se kolfvermoë hê en vir hom sê wat sy verantwoordelikhede is,” het Holder gesê.

Gerald Coetzee het drie paaltjies geneem en hoewel sy radar soms nie heeltemal ingetel was nie, het hy met sy vaart en aggressie beïndruk.

Volgens die jong snelbouler was dit sy plig om in Anrich Nortjé se afwesigheid die Windies-kolwers te laat bontstaan.

“Ek hou daarvan om die bal lekker op die kolfblad neer te plant. Hoewel dinge beslis makliker hier vir die kolwers as op SuperSportpark is, is daar steeds genoeg hulp vir die boulers,” het Coetzee gesê.

Daar word verwag dat die baanblad al meer draaiersvriendelik sal word. Tog kon Suid-Afrika se draaiers – Simon Harmer en Keshav Maharaj – saam net drie paaltjies neem terwyl hulle 140 lopies afgestaan het.

Spel word vandag om 10:00 hervat.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 320/10 in 92,2 boulbeurte: Aiden Markram 96, Tony de Zorzi en Kyle Mayers 3/32.

Wes-Indiese Eilande 251 in 79,3 boulbeurte: Jason Holder 81, Kyle Mayers 29 en Gerald Coetzee 3/41

Suid-Afrika 4/0 in 3 boulbeurte: Dean Elgar 3*.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.