Hopelik reën dit ook sesse op St. Georgepark

Donovan Ferreira in aksie vir die Joburg Super Kings. (Foto: Twitter via SA20-toernooi)

Die eerste T20-wedstryd tussen Suid-Afrika en Indië het Sondag op Kingsmead uitgereën en daar word ook reën vir vandag se kragmeting op St. Georgepark voorspel.

Maar met slegs ʼn handjievol wedstryde oor vóór volgende jaar se T20-Wêreldbekertoernooi in die VSA en die Wes-Indiese Eilande, sal die Suid-Afrikaners duim vashou dat vandag se tweestryd wel voortgaan.

Aiden Markram is aan die stuur van ʼn jong Protea-groep wat opkomende spelers soos Matthew Breetzke, Nandré Burger en Donovan Ferreira insluit.

Die 25-jarige Breetzke kan die kolfwerk saam met Reeza Hendricks open en die oudleerder van Grey High School sal op sy goeie spelpeil in plaaslike toernooie wil voortbou.

Hy was in 2021 die toplopiemaker in Krieket Suid-Afrika se provinsiale T20-reeks, terwyl hy sy lopies teen ʼn goeie treftempo van 130 moker.

Dan het Ferreira reeds sy staal op die groot verhoog gewys toe hy vroeër vanjaar 48 lopies van slegs 21 balle teen Australië aangeteken het.

Die 25-jarige speler is een van die Titans se staatmakers en hy het ook vir die Joburg Super Kings in die eerste weergawe van die SA20-toernooi uitgeblink.

Op sy beurt kan Burger sy internasionale buiging teen die Indiërs maak.

Dit is altyd goed om ʼn linkshandige snelbouler in jou aanvalskoker te hê en Burger laat sy T20-paaltjies teen ʼn treftempo van 17 spat, terwyl hy net meer as sewe lopies per boulbeurt afstaan.

Die wedstryd begin om 17:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

  • T20-groepe:

Suid-Afrika: Aiden Markram (kaptein), Ottniel Baartman, Matthew Breetzke, Nandré Burger, Gerald Coetzee, Donovan Ferreira, Reeza Hendricks, Beuran Hendricks, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, David Miller, Andile Phehlukwayo, Tristan Stubbs en Lizaad Williams.

Indië: Suryakumar Yadav (kaptein), Ravindra Jadeja, Arshdeep Singh, Deepak Chahar, Ruturaj Gaikwad, Ishan Kishan, Shreyas Iyer, Yashasvi Jaiswal, Kuldeep Yadav, Mohammed Siraj, Mukesh Kumar, Ravi Bishnoi, Jitesh Sharma, Shubman Gill, Rinku Singh, Tilak Varma en Washington Sundar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.